Produksie verken grense van identiteit

Plaaslike talent is te sien in die postmoderne drama Skin Deep, geskryf deur ’n oud­leerling van die Hoërskool Fichardtpark.


Plaaslike talent is te sien in die postmoderne drama Skin Deep, geskryf deur ’n oud­leerling van die Hoërskool Fichardtpark.

Nico Taljaard se debuut-toneel­stuk is van 16 tot 18 Maart in die André Huguenet-teater te sien.

Jane Mpholo en Charl Henning vertolk die hoofrolle in dié veeltalige toneelstuk wat temas oor identiteit en veelrassige verhoudings verken.

Nico, ook die regisseur, sê hy fokus hoofsaaklik op die teenstand wat sulke verhoudings ontlok – teenstand wat uit politieke en persoonlike vooroordele in huishoudings ontwikkel.

“Dit gaan uiteindelik nie net oor liefdesverhoudings nie, maar is baie meer universeel. Dit handel ook oor verhoudings in die alledaagse lewe: in die werkplek, met jou vriende en kennisse.”

Nico, wat drama en toneelkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer het, het die basisteks vanSkin Deep reeds in 2019 geskryf en dit ingeskryf vir die Vrystaat Kunstefees in 2020, wat toe nie plaasgevind het nie.

“Dit was eintlik ’n seën, want sedertdien het ek die konsep en storielyn baie verfyn,” meen hy.

Hy sê veral die terugvoering wat ontvang is tydens ’n KKNK Teksmark in Augustus verlede jaar het vorm aan sy produksie gegee – wat binnekort op die planke gaan wees, is ’n beter toneelstuk met meer diepte.

Die toneelstuk word in ’n mengsel van Afrikaans, Engels en Sotho opgevoer.

Hy sê hoewel daar subtiele verwysings na rasse-vooroordeel en konflik in die stuk is, wys dit hoe dikwels van die konflik in Suid-Afrika uit wankommunikasie, die behoefte om konflik te vermy, onderdrukking en onkunde spruit.

“Dit wys dat baie van die konflik verkeerdelik aan rasseverskille toegeskryf word.”

Die aanbieding van Skin Deep word deur die Nasionale Kunsteraad moontlik gemaak.

Kaartjies vir vertonings, van Donderdag (16/03) tot Sondag om 18:30, kos R100. Studente, pensioentrekkers en groepe van vyf of meer betaal R80. Koop by webtickets.co.za, Pick n Pay-winkels of by Pacofs se kaartjiekantoor. Geen kinders jonger as 13 jaar word in die gehoor toegelaat nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.