Die nuwe bestuurspan is van links Simone Proos, dr. Eben Proos (nuutverkose voorsitter), Colin Steyn, Louis Venter, Manie Pickard, Ronel Theart, dr. Arnold van Dyk en Gert Theart. Foto: Verskaf


Soos talle organisasies was die Vriende van die Oorlogsmuseum genoop om in 2021 hul bedrywighede aanlyn voort te sit.

Die besluit om lesings na aanlyn platforms uit te brei vind besondere byval by die ouer geslag, mense met gestremdhede en lede in verafgeleë gebiede.

Dié organisasie, wie se oogmerk dit is om die Oorlogsmuseum en sy aktiwiteite te ondersteun, het verlede jaar sy 32ste bestaansjaar gevier.

Oor die jare is verskeie mylpale bereik, waaronder die uitbreiding en stigting van takke in Gauteng en die Wes-Kaap.

Tog het die organisasie in die afgelope jaar ook groot terugslae beleef en moes dit sy voorsitter, dr. Johan Hattingh, en ’n bestuurslid, Koos Klopper, aan die dood afstaan.

Op die Vriende van die Oorlogsmuseum se jaarvergadering in November is ’n nuwe en jong bestuurspan verkies. Die geleentheid is voorafgegaan deur ’n kranslegging en geweersaluut by die burgermonument op die terrein van die museum.

Dit is opgevolg deur ’n gedenklesing, aangebied deur prof. Andries Raath, met die onderwerp “Yzerspruit, Tweebosch en die spil van Genl. J.H. (Koos) de la Rey se krygsbenadering in die finale krygsfase van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902)”.

Erelidmaatskap is terselfdertyd aan Raath toegeken vir sy jarelange betrokkenheid by die Oorlogsmuseum en Vrouemonumentkommissie, sy navorsing en publikasies en sy beywering vir die bewaring van die erfenis rondom die Anglo-Boereoorlog.

Dr. Eben Proos, nuutverkose voorsitter, sê dat hy met afwagting uitsien na die jaar se program en opgewonde is oor die potensiaal vir groei wat die aanlyn lesings bied.

Hy moedig veral die jonger geslag aan om by die Vriende aan te sluit.

  • Die jaarprogram vir 2022 sluit in die Kestell-kranslegging, die Bittereinder-gedenklesing en -kranslegging, die Vriendetoer en die Instawalk-geleentheid.

Daguitstappies na bekende slagvelde van die Anglo-Boereoorlog vind gereeld plaas, terwyl verskeie lesings oor interessante onderwerpe deur kenners aangebied word.

Elke tak funksioneer onafhanklik, hoewel ’n gesamentlike toer in September om die beurt deur een van die takke georganiseer word.

Ledegeld beloop R150 per jaar. Belangstellendes kan ’n e-pos met navrae aan museumvriende@gmail.com rig.

You need to be Logged In to leave a comment.