Die Rosestad sal binnekort weer sy naam gestand doen.
Anton Botha, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Langenhovenpark-tak, sê dié tak het met alle erns begin om die verkeerseiland in Du Plessis-straat te verfraai.
“Ons sny eers die hele verkeerseiland se gras wat ná die baie reën dig gegroei het. AfriForum het sy eie toerusting daarvoor.”
Op Dinsdag 25 Januarie het dié tak die eerste 47 van die beplande 400 tot 600 roosbome op die eiland geplant. ’n Paar daarvan was skenkings van rose uit mense se tuine.
“Uit lugfoto’s kan ’n mens duidelik sien waar die tuintjies was toe dit jare gelede uitgelê is. Hier is 20 tuintjies op die eiland van meer as 2,2 km waarin ons uiteindelik rose wil plant – ons bly immers in die Rosestad.”
Botha sê dié woonbuurt het 67 000 inwoners, waarvan 600 aan AfriForum se Langenhovenpark-tak behoort.
“Hoe meer mense aansluit, hoe meer kan ons doen om die woonbuurt netjies en veilig te maak.”
Kringtelevisiekameras is reeds by van die ingange na die woonbuurt aangebring.
“Ons werk nou saam met die veiligheidsmaatskappy ADT om nog sulke kameras op te rig om veiligheid in die woonbuurt te moniteer.”
Die tak het ’n ooreenkoms met die Greenside-kwekery aangegaan waarvolgens inwoners teen R150 ’n roosboom kan koop wat dan aan die roostuinprojek geskenk word. Saam met dit voorsien die kwekery ook kompos en beenmeel sodat die rose sterk kan groei.
Botha lei self die rose nat en sê inwoners het reeds laat weet dat hulle bereid is om die rose te snoei.
“Ons is op soek na foto’s van die tuintjies soos dit gelyk het kort nadat dit destyds gevestig is. Sulke foto’s sal ons kan help om te sien wat ons nog kan doen om die eiland mooi te maak.”
Botha is self ’n ywerige tuinier en is vol geesdrif vir die projek. Hy wil die opslagbome en ander bosse laat verwyder.
“Ons wil nou graag hierdie eilande en ander parkies in die woonbuurt mooi hou. Besighede kry ook die geleentheid om ’n tuintjie aan te neem en so ’n bydrae te maak om die tuine te onderhou.”
- Belangstellendes kan Botha by 082-781-5672 bel vir meer inligting oor die tuine en lidmaatskap.