Op die jaarvergadering van die Vereniging vir Blindes, Vrystaat, is van links Theresa Erasmus (maatskaplike werker), Puseletso Kopa (oriëntasie- en mobiliteits­praktisyn), Duma Mhlongo (komiteelid), Michiel Kruger (rolbalkampioen), Marianne Kruger (tesourier) en Willie Schoeman (Michiel se afrigter). Foto’s: Lientjie Mentz


Danksy ’n projek van die Vereniging vir Blindes, Vrystaat, kan 13 leerlinge van Bloemfontein nou beter sien.

Dié leerlinge aan die Mangaung Primary School het Dinsdag (29/11) brille ontvang, wat hul skoolwerk baie gaan vergemaklik.

Die projek sluit aan by talle deur die vereniging die afgelope jaar in Bloemfontein, Thaba Nchu en Botshabelo om mense met visuele uitdagings te ondersteun en bewustheid te skep.

Marianne Kruger, tesourier van die vereniging, sê met die ondersteuning van die Witherow-trust en Mellin iStyle in die Middestadsentrum is 76 leerlinge van dié skool se oë in September getoets.

Altesaam 33 kinders is na die oogkundiges verwys, waarvan 13 geïdentifiseer is om elk ’n bril te ontvang. Die leerlinge kon self die brilrame kies en was opgewonde om Dinsdag dié brille te ontvang.

Amogelang Moshodi, ’n gr. 7-leerling, sê sy het gesukkel om te lees.

“Ek het regtig net gelees as dit nodig was,” het sy gesê.

Nou wil sy graag ook vir plesier begin lees.

Theresa Erasmus, maatskaplike werker van die vereniging, het op die jaarvergadering op 27 Oktober oor talle van die projekte terugvoering gegee. Dit sluit in die Rendezvous-groep vir blinde en swaksiende mense wat 16 maal die afgelope jaar vergader het. Die Aganang-groep, onder leiding van Jane Rametse, het verlede jaar agt keer vergader en het allerlei uitstappies onderneem en sprekers genooi om met die groeplede te gesels.

Die vereniging se oriëntasie- en mobiliteitspraktisyn, Puseletso Kopa, help individue wie se sig verswak of wat blind word om hul lewensgehalte te verbeter en die uitdagings rondom beweeglikheid en alledaagse take te trotseer. Hy is ook by verskeie bewusmakingsprogramme by ondernemings en skole betrokke.

Theresa sê die vereniging is trots op sportlui wat die afgelope jaar groot hoogtes bereik het.

Michiel Kruger is ’n tiende keer gekroon as die Suid-Afrikaanse nasionale rolbalkampioen in die afdeling B1, waarin hy goud gekry het vir die enkelspel en silwer vir die dubbelspel.

Dit was vanjaar die tiende keer agtereenvolgens dat hy goud in die enkelspel op die nasionale kampioenskap behaal het. Hy is gekies vir die Suid-Afrikaanse span wat in Februarie aan die wêreldkampioenskap in Australië gaan deelneem. Die klub het ook hul gelukwensing uitgespreek teenoor Willie Schoeman, wat 24 jaar Kruger se afrigter was.

Die vereniging het ook lof gehad vir Louzanne Coetzee, wat saam met haar gidse Estean Badenhorst (atletiek) en Claus Kempen (langafstand), aangewys is as die Vrystaatse departement van sport se sportster van die jaar vir haar deelname op provinsiale, nasionale en internasionale vlak.

Sy is ook saam met Estean en Claus op die Vrystaat Sportsterre-dinee, aangebied deur Sentraal24 en die Universiteit van die Vrystaat (UV), vereer vir haar silwermedalje in die 1 500 m en bronsmedalje in die marathon op die Paralimpiese Spele in 2021.

Louzanne is ook gelukgewens met haar verlowing aan Jeandré Badenhorst, Estean se broer.

Die vereniging het die afgelope jaar 231 gevalle behartig en hulpverlening gebied aan 213 individue, terwyl 77 mense by die laevisie-kliniek gehelp is.

You need to be Logged In to leave a comment.