Die pikkewyntjie van die animasieprent Happy Feet het Engo geïnspireer om vanjaar die tweede keer splinternuwe skoene vir 800 kinders van jeugsorgsentrums in die Vrystaat in te samel.
Dries Benade, ’n vrywilliger van Engo, is passievol oor die projek wat vanjaar die tweede keer aangebied word.
“Elke kind verdien nuwe skoene. Kinders groei vinnig, so hulle moet elke jaar nuwe skoene kry. Skoene waarop hulle trots kan wees en hulle so menswaardig laat voel.”
Die projek sluit al die kinders van Engo se 33 jeugsorgsentrums oor die Vrystaat heen in.
Alda Fourie, bemarker van Engo, verduidelik dat die pikkewyn in Happy Feet nie kon sing nie, maar soos ’n meester kon dans.
“Die storie se temas van waarheid, toewyding, deursettingsvermoë en selfaanvaarding is toepaslik vir die kinders in Engo se sorg.”
Kinders in elke sentrum kry die geleentheid om kaartjies in te vul waarop hulle aandui watter skoene hulle benodig – hetsy skoolskoene, tekkies, pantoffels of sandale. Op elke kaartjie word die kind se naam, skoengrootte en soort skoen aangedui. Een kind kan tot vier kaartjies volgens sy of haar behoefte invul.
Die publiek en lidmate van kerke wat ’n betrokke sentrum ondersteun, ontvang dan kaartjies en besluit watter skoene hulle wil koop.
Fourie sê ondernemings kan ook by Engo betrokke raak om hierdie inisiatief te ondersteun.
Belangstellendes wat wil deel word van die Happy Feet-projek, kan Engo se bemarkingsafdeling by 060-548-554 skakel of ’n e-pos aan info@engo.co.za stuur.
Die projek duur tot 31 Julie.