Projek met skou se vieringe verweef

Om Bloemskou se 140ste bestaansjaar te vier, is daar met Bloemnuus en Radio Rosestad saamgespan vir ’n projek, Brei vir Bloem.


Om Bloemskou se 140ste bestaansjaar te vier, is daar met Bloemnuusen Radio Rosestad saamgespan vir ’n projek, Brei vir Bloem.

Lede van die gemeenskap kan daarby betrokke raak om komberse vir liefdadigheid te maak. Neem deel deur vierkante van 140 mm x 140 mm te brei, kwilt, hekel of weef. Vrywilligers sal vierkante aan mekaar vaswerk vir komberse van 140 cm x 140 cm.

Mense wat nie kan brei of handwerk doen nie, kan ’n bydrae lewer deur wol, lappies, hekelgare en penne te skenk.

Voltooide vierkante kan voor 31 Maart by Bloemskou of Bloemnuusse kantoor, by Pres. Reitzlaan 107, Westdene, afgegee word.

Bloemskou word vir vanjaar van 27 April tot 6 Mei beplan en gaan ’n prettige partytjie-tema hê.

Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof, sê besoekers gaan met ’n propvol vermaakprogram verras word.

“Vanjaar bied 22 landboukampioenskappe, ’n verskeidenheid buite-uitstallings, lekker kos- en kuiergedeeltes, asook ’n splinter­nuwe aanslag deur binne-uitstallers,” sê sy.

“Uitstalsale is in segmente verdeel wat verskillende teikenmarkte aanspreek; die fokus is op gehalte en verskeidenheid.”

Uitstaller-afdelings sluit in ekovriendelike oplossings, tuine, landskap-argitektuur, sonkrag- en water-oplossings, oudio en elektroniese toerusting, sellulêre oplossings, dekor, kombuise, badkamers, slaapkamers, meubels en kuns, buitelewe en selfdoen, klere, skoene, bybehore, handsakke, hare en skoonheid, asook verskeie drink- en eetgoed.

Ondernemings wat wil uitstal, kan op bloemskou.co.za aansoek doen.

“Ons hou skou uit die gemeenskap vir die gemeenskap. Deel jou betrokkenheid by en staaltjies van Bloemskou oor die afgelope 140 jaar deur e-pos na info@bloemskou.co.za te stuur,” nooi Prinsloo.

“Tien deelnemers sal elk ’n skoukaartjie wen.”

Skakel 051-448-9894 vir meer inligting, of besoek bloemskou.co.za.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.