Die inwoners van Bloemshelter, wat tydelike verblyf bied vir vroue en hul kinders wat die een of ander vorm van mishandeling of geslagsgeweld beleef het, het op 24 Mei komberse ontvang.
Lucielle Kreling, konsultant vir geklassifiseerde advertensies in Bloemnuus, het komberse ingesamel om aan 20 van die inwoners te skenk.
Die regsfirma McIntyre & Van der Post, Honey-prokureurs en Emmanuel-begrafnisondernemers is van die ondernemings wat ’n bydrae gelewer het.
Heidi Morgan, bestuurder van Bloemshelter, sê hulle is dankbaar vir skenkings soos hierdie.
“Die gemeenskap is goed vir ons en help dat ons vir die vroue ’n huislike atmosfeer kan skep.”
Sy sê dit is vir hulle belangrik dat vroue wat hier bly, bemagtig word en kennis opdoen wat hulle kan gebruik nadat hulle die skuiling verlaat.
Een van die projekte wat nou ’n meer permanente plek by Bloemshelter gekry het, is die winkel waar mense klere en skoene kan skenk en die gemeenskap dit teen uiters billike pryse kan koop.
“Die liefdadigheidswinkel was aanvanklik net Vrydae oop, maar noudat dit ’n permanente tuiste het, is lede van die gemeenskap welkom om enige tyd hier te kom koop.”