Senzo Mchunu (links, minister van water en sanitasie), dr. Sean Phillips (dié departement se direkteur-generaal), dr. Limakatso Moorosi (uitvoerende hoof van Bloemwater) en Themba Ngubeni (regs, uitvoerende hoof van Bloemwater se ingenieurswese en projekte), Maandag (09/01) by Bloemwater se kantoor in Pellissier. Die pype van 1 m in deursnee wat in die eerste fase gebruik is, is op die agtergrond sigbaar. Foto: Mlungisi Louw


Die voltooiing van die eerste fase van die nuwe Welbedacht-waterpypleiding in die Mangaung-metro lyk ná etlike jare en honderde miljoene rande byna binne bereik.

Die doel van die projek is om die erg verouderde pyp­leiding, wat water van die Welbedacht-watersuiweringsaanleg aan die metro en ’n deel van die Kopanong-munisipaliteit verskaf, te vervang.

Die eerste fase, waarmee reeds in 2017 begin is, behels die oprigting van ’n pypleiding van 33,7 km van Lieuwkop na Brandkop in Bloemfontein.

Die nuwe pype is 1 m in deursnee.

Volgens Wisane Mavasa, woordvoerder vir die nasionale departement van water en sanitasie, is die eerste deel van die projek sowat 93% voltooi en sal dit na verwagting teen 30 Maart afgehandel wees.

Mavasa het bevestig die koste van die voltooide pypleiding van 33,7 km is byna R600 miljoen. Die departement moet egter nou met die nasionale tesourie skakel oor die sowat R1,6 miljard vir finansiering van die tweede fase.

Dié fase behels die oprigting van ’n pypleiding van 71,3 km van Lieuwkop na die Welbedacht-watersuiweringsaanleg. Die pype sal 1,2 m in deursnee wees.

Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, het Maandag (09/01) met verskeie belanghebbendes by die waterverskaffer Bloemwater se kantoor in Pellissier vergader. Dit sluit in Bloemwater, die Vrystaatse regering, die Mangaung-metro en die Kopanong-munisipaliteit.

Daar is onder meer oor die tweede fase van die projek gepraat.

Volgens Mavasa is die vergadering gehou met die oogmerk om ingrypings betreffende water- en sanitasiekwessies in die provinsie te bespreek.

Mchunu sê hy is bly die eerste fase is byna afgehandel, met slegs die lê van 200 m se pypleiding wat voorlê.

Hy sê die departement gaan die nasionale tesourie betrek in die ondersoek na maniere van finansiering om die aanvang van die tweede fase te bespoedig.

Mavasa sê die bestaande pypleiding (onder beheer van Bloemwater) wat met dié projek vervang word, is 50 jaar oud en 70% van die metro se water vloei hierlangs. Die bestaande pypleiding bars en lek gereeld.

Die Bloemfontein-omgewing se Bloemwater-verskaffing­stelsel kort tot 61 megaliter per dag, sê Mavasa. Daar word slegs sowat 187 megaliter per dag gelewer, terwyl die vraag 248 megaliter per dag is.

You need to be Logged In to leave a comment.