Die kindergesiggies van pasiënte in die Nasionale Hospitaal het Wilson (Nippie) Jafta en gemeentelede van die Bloemfontein-Baptistekerk só geraak dat ’n uitsonderlike projek ontstaan het.
Ná ’n uitreik-geleentheid deur die kerk op 15 April het Jafta op sy verjaardag op 18 April vir vriende en familielede gevra om vir hom sagte speelgoed as geskenke te gee wat hy vir kinders in hospitale wil skenk.
“Dis ongelooflik hoe goed mense se harte is. Teen Donderdag het ek al meer as 30 sagte speelgoed bymekaargemaak,” sê hy.
“Ek staan verlede week in die bank en gesels oor die speelgoed wat ek vir pasiëntjies insamel,” vertel hy.
“ ’n Vrou in die bank hoor dit en kom na my toe en sê dat sy baie graag haar oorlede kind se sagte speelgoed vir my wil skenk.
“Dit was baie kosbaar.”
Vriende van oor die land heen, soos ’n groep oudsoldate uit die Kaap, asook familielede van hom in die Wes-Kaap, samel ook nou sagte speelgoed vir dié projek in.
“Van oral heen skenk mense vir ons speelgoed vir die projek.
“Ons gaan die speelgoed afgee by Nasionaal en hoop om later ook pasiëntjies van ander hospitale se hart te gaan bly maak.”
Jafta sê mense wat die projek wil ondersteun, kan sagte speelgoed afgee by die afsetpunte by Pick n Pay Fleurdal (Kays), asook die Pick n Pay by Showgate en die Fichardtpark-biblioteek.