Die prokureursfirma Bezuidenhouts vier vanjaar 70 jaar van goeie diens aan kliënte.
Personeel en oudpersoneel het dié mylpaal met ’n geselligheid by die Ramblersklub op 30 September gevier.
Direkteure, personeel, afgetrede personeel en die eggenoot van wyle Leon Bezuidenhout, asook vorige vennote, het dit bygewoon.
Met die stigting van die firma op 1 Augustus 1952 het André Bezuidenhout hom op familiesake toegespits.
Sy broer, Leon, het hom in 1955 by André aangesluit, en saam het hulle die praktyk uitgebrei.
Stephan Bezuidenhout, wyle André se seun, het hom in 1977 as klerk by die firma aangesluit en is nou ’n direkteur van Bezuidenhouts Ingelyf.
André het in 1993 afgetree en Leon in 1999.
Die firma se kantoor was aanvanklik in die Standard General-gebou in die Bloemfonteinse middestad geleë, maar het in 1996 na Kellnerstraat 104, Westdene, geskuif – waar dit vandag nog is.
Die firma was in daardie tyd een van die eerste prokureursfirmas wat uit die middestad geskuif het.
Wynand Flemming het hom in 1999 by die firma aangesluit en het as direkteur gedien tot in Februarie 2020. Nou is hy steeds as konsultant betrokke.
In Januarie 2000 het die firma met Milton en Earle geamalgameer en onder die naam Bezuidenhouts Milton Earle gepraktiseer.
Die naam het op 1 Augustus 2003 na Bezuidenhouts Ingelyf verander, en die firma staan vandag nog so bekend.
Met die 70-jaar-mylpaal, bestaan die firma uit tien prokureurs, onder wie drie direkteure: Stephan Bezuidenhout, Deirdré Milton en Jeni Els, wat in 2020 direkteur geword het.
Die ander prokureurs en professionele assistente is: Nelis Verwey, Christna Botha en Dané Daffue-Vosloo (aktes), Ronel Ebersohn (boedels en aktes), Rikus Smit (litigasie) en Nelson Xaba (litigasie en invorderings).
Vyf kandidaatprokureurs dien hul klerkskap by Bezuidenhouts uit.
Die verskillende afdelings by die firma is: eiendomsreg, aktes, litigasie en Appèlhof-sake, kommersieel en korporatief, familiereg, skuldinvordering, asook Padongelukkefonds-sake en boedels.
Die firma is trots op sy lang verbintenis met kliënte, wat ’n pad saam met die firma stap. Boonop is sommige oudkliënte se kinders vandag kliënte van die firma.
Die firma is ook besonder trots op sy personeellede, waarvan vier al meer as 20 jaar by die firma werk. Hulle is: Carol Beattie (23 jaar), Franciska du Plessis (27 jaar), Isahia Pheelo (ongeveer 24 jaar) en Marlene Pieterse (20 jaar).
Die direkteure sê die firma koester sy personeel en dit is ’n eer om met sy kliënte en korrespondente saam te werk.
- Die firma bied elke laaste Vrydag van die jaar ’n gholftoernooi aan.
Die Tuisblyersgholfdag word vanjaar op 30 Desember aangebied, en geld wat met die toernooi ingesamel word, gaan vir die jeugsorgsentrum in Reddersburg, asook Ons Kinderhuis in Bloemfontein.