Twee Vrystaatse laserwedloop-atlete het onlangs Protea-kleure verwerf. Hanru Krause en Danielle Joubert het dit op 7 April vermag nadat hulle verlede jaar vir die Internasionale Moderne Vyfkampvereniging (UIPM) se wêreldkampioenskap gekwalifiseer het en Suid-Afrika in Bath, Engeland, verteenwoordig het.
Marizel en Van Zyl Naude het ook hul Protea-kleure verwerf nadat hulle die UIPM-pentathlon-afrigters vir die span was in Portugal in 2022 en in Bath 2023 (vlak 2).
’n Woordvoerder vir die span sê die afrigters is van onskatbare waarde vir die Vrystaatspan en doen baie om die sportsoort te bevorder.
Die Suid-Afrikaanse pentathlon- en laserwedloop-kampioenskapsbyeenkoms is van 4 tot 7 April by Somerset College in Somerset Wes gehou. In die uitdagende omstandighede het Vrystaat drie goue, vier silwer- en drie bronsmedaljes verower. Van die Vrystaat-o.11- tot senior atlete het goed presteer en 20 atlete het kwalifiserende tye behaal om aan die wêreldkampioenskapsbyeenkoms deel te neem.
Dié byeenkoms vind van 7 tot 9 Junie in Zhengzhou, China, plaas.
Medaljes verwerf
- Goud: Minke Ferreira (o.13), Mika Leigh Strydom (o.17) en Ezeth Esterhuizen (o.19).
- Silwer: Lea Cilliers (o.11), Hanru Krause (o.19), Gail Potgieter (vroue 40 jaar en ouer) en Leana Esterhuizen (vroue 50 jaar en ouer).
- Brons: Munay Uys (o.13), Danny Pienaar (o.17) en Gerhard Beukes (mans 40 jaar en ouer).