Danksy inligting van die publiek het die DBV in Bloemfontein Vrydag (03/02) toegeslaan op drie mense, wat handel probeer dryf het in wilde diere.
Werner Botha, inspekteur van die Bloemfontein DBV sê hulle het verlede week oproepe van die publiek ontvang oor ’n man wat ’n skilpad naby die parkeerterrein van die Showgate-winkelsentrum probeer verkoop het.
Hy het aan verbygangers dié jongerige skilpad teen R200 te koop aangebied.
“Elke keer as verbygangers hom gedreig het dat hulle die DBV gaan bel, het hy verdwyn. Toe ons Vrydag weer inligting ontvang, het ons met ’n ongemerkte voertuig na die plek by die winkelsentrum gegaan en hom in hegtenis geneem.”
Botha sê die man word aangekla van die oortreding van die Dierebeskermingswet en die oortreding van die Vrystaatse Natuurbewaringsordonnansie.
Die man verskyn binnekort in die hof.
Die DBV het ook verlede week klagtes ontvang van mense in die Fichardtpark-omgewing van twee mans wat ’n jong steenbok aan ondernemings in die suide van die stad probeer verkoop het.
“Ons het Vrydag binne ’n kort tyd ’n hele paar oproepe gekry en die twee mans met die steenbokkie is op die parkeerterrein van die Fleurdal-inkopiesentrum in hegtenis geneem.” Die klagte teen hulle spruit ook uit die oortredings van die Dierebeskermingswet en die ordonnansie. Hulle behoort binnekort in die hof te verskyn.
“Ek hoop hierdie dien as ’n waarskuwing aan alle inwoners om nie inheemse wildspesies sonder ’n geldige permit te probeer verkoop nie. Mense wat in die Vrystaat gevang word dat hulle dié wet oortree, kan swaar boetes en tronkstraf opgelê word,” sê Botha.
Hy sê ook dit is onwettig om hierdie diere sonder die nodige permit aan te hou en boetes van tot R100 000 of 10 jaar tronkstraf kan opgelê word onder die Vrystaatse Natuurbewaringsordonnansie.
“Die Bloemfontein DBV en die nasionale DBV is gekant teen die aanhou van wilde diere as troeteldiere,” sê Botha.
Hy sê die skilpad was in ’n sak en het met die DBV se aankoms Vrydag tekens van ontwatering en blootstelling aan die son getoon.
“Danksy die hulp van inwoners, kon die skilpad betyds gered word en word hy nou versorg voordat hy veilig in die veld vrygelaat sal word.”
Botha sê die steenbokkie, wat nou Bambi heet, is in ’n verswakte toestand en het behandeling van ’n veearts nodig gehad.
“Die bokkie was erg ondervoed en kon net sagte geluidjies maak en klein bewegings uitvoer. Die bokkie is na ’n gespesialiseerde veearts in Johannesburg geneem en die DBV vra die hulp van die publiek om te help om dié bokkie se versorging deur die veearts te help finansier.”
Besoek die DBV se webwerf bloemfonteinspca.co.za en maak ’n donasie met die verwysing: Bambi.
Rig navrae aan die DBV by 051-447-3801.