Inskrywings vir die #Pick-a-Potjie-kompetisie het reeds gesluit en al wat oorbly is dat mense Saterdag (20/05) by die Dr. C.F. Visser-skool in Estoire buite Bloemfontein moet kom kuier en potjiekos eet.
Spanne gaan dit Saterdag uitspook om die lekkerste potjiekos te maak en só meeding om groot pryse, wat ’n eersteplek-beloning van R3 500 insluit.
Besoekers kan van 07:00 tot 14:00 saamkuier. Toegang is gratis, en daar sal heelwat vermaak gebied word.
Benewens die ingeskrewe spanne wat elk met hul unieke potjiekosresep aan die kompetisie deelneem, gaan spanne van Pick n Pay Reizis Square, Bloemnuusen Radio Rosestad elk ’n reuse-pot vol potjiekos maak, waaraan gaste teen R40 ’n porsie sal kan smul.
Besoekers sal ook vir hul gunsteling-stalletjies kan stem.
Die hoofkunstenaar is William Wolf en daar gaan ook ’n pretpark wees waar kinders teen R50 vir die hele dag kan baljaar.
Op die kinders wag daar ’n kompetisie van hul eie – hulle sal braaibroodjies kan “bou” en dit onder toesig braai. Dié wat die lekkerste broodjies maak, sal pryse wen.
Daar is ook peuselgoed, soos pannekoek, skyfies, worsbroodjies en koeldrank, vir die honger totdat die potjiekos so van 11:00 af gereed is.
Beoordeling vir die kompetisie word om 12:30 gedoen.
Nog ’n prettige gedoente op dié dag is die Beesdrop-kompetisie, waarvoor besoekers tot Vrydag nog kaartjies teen R10 kan koop. Dit is by die skool en by Pick n Pay Reizis Square beskikbaar.