Hawies Fourie, afrigter van die Cheetahs, het ná hul Curriebeker-triomf die hoop uitgespreek dat hulle weer genooi sal word om in die Europese Uitdaagbeker-reeks te speel.
Die twee spanne wat genooi word, is nog nie bevestig nie en die Vrystaters se sege van 25 – 17 oor die Pumas in die Curriebeker-eindstryd Saterdag (24/06) – hul sewende titel – kan in hul guns tel.
“Ek hoop dat ons weer daar sal wees. Ons het dit geniet om daarin te speel en dit het vir ons baie beteken. Ons almal, die spelers en afrigters, het baie ervaring daarin opgedoen,” sê Fourie.
Die spelers se verbeterde kondisionering danksy die Uitdaagbeker-reeks het die span gevolglik sterker vir die res van die seisoen gelaat.
“Ons het ons man gestaan en die ronde van 16 gehaal. Hopelik wil hulle hê ons moet die komende seisoen weer in die reeks speel.”
Fourie was ná die eindstryd Saterdag ook weer vol lof vir die 39-jarige losskakel Ruan Pienaar en sy inspirerende rol by hulle.
“Hy is op hierdie ouderdom waarskynlik die hardste werker in ons span, en dit is hoekom hy steeds rugby van hoogstaande gehalte kan lewer.
“Hy is ’n ongelooflike mens en rugbyspeler, en ook pa vir sy kinders. Dit is ’n voorreg vir ons om die ervaring en gehalte van ’n Ruan Pienaar in ons groep te hê.”
Die Vrystaters het teen rustyd met 18 – 11 voorgeloop nadat die linkervleuel Cohen Jasper in die 38ste minuut in die hoekie oorgeduik het vir hul tweede drie.
“Cohen se drie was belangrik vir ons om ons neus voor te kry. Die hele fokus was om voor te kom. Die Pumas is ’n gevaarlike span; hulle het verlede week teen die Haaie binne ’n paar minute met 12 – 0 voorgeloop. Dit is hoe hulle is. Hulle begin wedstryde baie goed, en dan is jy onder druk.
“Ons het geweet wat ons moes doen en dit was daarom ’n belangrike drie. Dit het begin by ’n goeie rolmaalbeweging van die voorspelers. Hulle het van die Pumas se agterlynspelers daarmee ingetrek en ons agterlyn het toe mooi afgerond.”
Die Pumas was binne tien minute in die tweede helfte terug in die prentjie op 17 – 18.
“Ons het hulle vroeg in die tweede helfte teruggelaat in die wedstryd, maar die ouens het mooi kopgehou die laaste 15 tot 20 minute.
“Ons was gelukkig om goeie leiers op die veld te hê in daardie laaste minute. Ouens soos Jeandré Rudolph en Robert Ebersohn was toe ook op die veld saam met Victor (Sekekete) en Ruan. Hulle het goeie besluite geneem en hul spanmaats kalm gehou.
“Dit is iets wat belangrik vir ons was. Verlede jaar het ons ’n paar foute in die laaste tien tot 12 minute gemaak en uiteindelik die halfeindstryd verloor. Vanjaar het ons kalm gebly en in die laaste kwartier die goed gedoen wat ons wou doen.
“Ek het baie vertroue in die span van vanaand gehad. Ek het nie regtig spoke van verlede jaar (met die halfeindstryd) weer gesien nie. Ek het geweet ons was oorgehaal om die wedstryd te kan close, soos hulle in Engels sê.”