Daar wag allerlei lekkertes op die Franse Herfsmark wat Saterdag (05/03) by Villa Avianto aangebied word.
Hierdie mark is groter as die maandelikse markte wat sedert verlede maand elke eerste Saterdag van die maand by Villa Avianto handgemaakte produkte binne bereik van die publiek bring.
Gaste kan om 07:00 kom om die Spice Walk in die Brandkop-bewarea mee te maak. Honde aan ’n leiband kan saamkom op dié staproetes. Kies uit afstande van 4 km vir ’n luilekker-wandeling of 5 km tot 8 km vir die ernstiger drawwers en stappers.
Die mark begin om 08:00 met ’n klokkespel wat die opening van die mark aankondig.
’n Eg Franse atmosfeer word geskep met ’n trekklavier wat gaste sal vermaak terwyl hulle tussen die stalletjies drentel of ontbyt geniet.
Suretha van Heerden, organiseerder van die mark, sê die fokus is op gehalteprodukte.
Dit sluit in dekoritems vir die huis soos bamboesmandjies, handvervaardigde juweliersware, ontwerpersklere, handsakke, handvervaardigde kerse en rome, die nuutste baba-artikels, handvervaardigde penne en messe, asook skilderye.
Vir die lekkerbekke is daar kosuitstallers met onder meer tuisgemaakte kase en Hollandse stroopwafels. Hierdie tradisionele wafel met spesiale karamelstroop word volgens die eeu oue resep uit Gouda, Nederland, berei en word vars gebak in Bloemfontein.
Die bekendste tipiese Nederlandse produkte is ook by die stalletjie te koop.
Nog ’n lekkerte is die eg tradisionele skaapstertjie-stalletjie wat nuut op die mark sake doen en monde sal laat water.
Vin Do bied ’n wynstalletjie aan waar vyf verskillende soorte wyn van onder meer die Longridge-wynlandgoed geproe kan word.
“Kom kuier lekker saam en koop die mooiste duursame produkte en lekkertand-geregte,” nooi Suretha.
- Die Franse Mark word in samewerking met Bloemnuus, deel van Sentraal24, aangebied.
- Lees ook die berig oor een van die besonderse uitstallers in Vrydag (04/02) se nuusbrief. Nog nie ingeteken nie? Teken hier in: https://bit.ly/3IE6XkB