Die oplos van ’n moordraaisel was nog nooit soveel pret nie.
Bloemfonteinse skrywer Igno van Niekerk sê die idee met die Moordraaisel wat Vrydag, 28 Oktober by die Nasionale Afrikaanse Letterkunde Museum en Navorsingsentrum (Naln) gehou is, kom al ’n paar jaar. “Dit kom van voor die pandemie toe ’n groep studente vir Annelien Diedericks van Naln genader het om so iets te doen,” vertel hy.
Weens Covid het dit nie plaasgevind nie, maar wat Vrydag gebeur het, was soveel pret dat dit beslis weer in die toekoms gehou sal word.
“Die idee was om jong mense in Naln te kry,” sê Igno. “Die talle jong mense wat opgedaag het, het al ons verwagtinge oortref,” sê hy. Onder meer was daar ’n hele bussie vol leerlinge van die Hoërskool Sandveld in Wesselsbron en heelwat kinders wat saam met hul ouers gekom het.
Igno se seun, Benno, en sy vriendin, Carla Kruger, het al die leidrade vir die moordraaisel uitgedink en hul vriende het saam met Annelien gewerk om raaisels in kamers in die museum te plant.
Deelnemers is aangemoedig om prettige foto’s te neem en op ’n Whats App-groep te plaas terwyl hulle die ondersoekwerk doen.
Drie skrywers Julio Agrella, Zelda Nel Bezuidenhout en Pieter Fourie het nie net deel geword van die moordraaisel nie, maar ook lekker met deelnemers gesels.
Nadat spanne ondersoek ingestel het wie die “lyk” is wat in Naln se ketelkelder lê en ook moes uitvind wie die moord gepleeg het, wat die motief en moordwapen was, het die skrywers saamgesels oor skryfwerk.
Agrella sê Suid-Afrikaners vra nie genoeg vrae nie. “Met my boeke wil ek juis hê mense moet meer dink.” Hy is die skrywer van Zeus van Wyngaardt en die skrikgodin en voor dit Zeus van Wyngaardt en die godin van die jag.
Bezuidenhout sê dit is vir haar heerlik om te skryf en sy weet dikwels nie wie die moordenaar is tot reg aan die einde nie. “Dit is vir my ook ’n verrassing.”
Sy sê wat heerlik is aan skryf, is die mag wat jy het om karakters te skep en weer dood te maak. “Eintlik vermaak ek net myself.” Haar nuutste roman is Die waarde van stil bure.
Pieter Fourie se Ons Skulde wat vanjaar verskyn het, is ’n tipiese raaiselroman. “Ek hou daarvan dat dit nie die polisie is wat ’n raaisel oplos nie, maar gewone mense. Ek hou daarvan om bietjie te top oor morele kwessies.”
Die drie skrywers se raad aan die nuwe generasie, is om stories te vertel.
“Jong mense lees nie meer so baie nie en gebruik tegnologie om inligting te kry,” sê Julio. “My oupa kon nie lees nie en my pa het nooit ’n boek gelees nie, maar hulle het baie stories vertel.”
Sy raad is om kreatief te wees op elke vlak. “Al is dit om jou kreatiwiteit uit te leef op Tiktok.”
Zelda sê vandag se jong mense dink uit die boks. “Jy het nie nodig om te skryf om skeppend te dink nie,” sê sy.
Pieter sê daar is baie maniere om stories te vertel. Hy bieg dat hy self nie sommer ’n boek lees nie. “Daar is baie nuwe maniere om stories te vertel soos grafiese boeke. Woorde het baie mag. Jy moet net ’n manier vind waarop dit vir jou werk.”