Dis sulke tyd. Die somerreën val in Bloem en omgewing. Dis tyd vir bossies uittrek.
So sukkel ek al drie jaar met my meenthuistuin. Toe ek ingetrek het, het die onkruid in die tuin geheers. Ek het tot aksie oorgegaan. Grassooie gekoop en die stuk grond omgespit.
Maar wintertyd vrek die gras en die pestilensies floreer weer. Nes ek dink ek wen, kom die duiwel se plantjies oornag op en groei welig sonder enige aanmoediging. Dis ’n nimmereindigende stryd.
’n Paar dae gelede is ek op my knieë besig om van die duiwelsbossies uit te pluk. Dis mos einste hoe die wêreldse tuinier werk, dink ek. Kom saai ongemerk negatiewe gedagtes in my sielstuin. Sommer met iets wat ek hoor of sien. Iets wat my hartsnare trek.
So hoor ek van ’n seuntjie wat deur ’n veghond aangeval is. Hy is op die toneel dood. Die angswekkende gebeure kry gestalte in my sielsoog en ’n saad van vrees val in my hart. Wat as ek deur die buurt stap en die bulhond straat-af val my hond aan? Wat as hy haar doodbyt? Die saad ontkiem.
’n Radioberig waarsku oor die gevare van veghonde. Almal moet van kant gemaak word. Later gesels ek met vriende en kollegas hieroor. Want Ek hou van honde. En Die plant kry water, dit staan al kniehoogte.
’n Wolk van mismoedigheid kom hang oor my. Ek blameer die bewolkte weer en vinnige pas van die lewe. Maar nóg ’n berig oor ’n honde-aanval bemes die plant en laat die vrees ’n struik word.
Die lewe is baie soos tuinmaak. Jy leer dinge. Soos om die onkruid van die grashalms te onderskei. ’n Lewens-ervare mens het geleer om toksiese gedagtes te identifiseer. Hy vat dit vas en trek dit sorgvuldig tussen die opbouendes uit. Verkeerde denke wat te lank gepaai word, word ’n vesting.
Dit kan jou hele lewe oorneem. Soos hierdie spreekwoord waarsku: “What you tolerate, you cannot eradicate.”
Nou maak Paulus se woorde vir my sin: Neem jou gedagtes gevange en onderwerp dit aan God. Want sekere dinge kan nie ongesien of ongehoor word nie. Dit skiet diep wortel in jou wese. Jy pluk ’n paar stingels uit, maar oornag is daar weer nuwes. Roep daarom die hulp van die hemelse Tuinier in.
Verlede jaar het ek skadu-grassaad in die koeltekolle gesaai. Hierdie jaar sien ek die verskil. Daardie piepklein saadjies se oes is soveel groter as dit wat ek gesaai het. Nóg lesse uit die tuinmaak handboek: Maak tyd om onkruid uit te trek, dit gaan nie vanself gebeur nie. Stop en dink waaroor jy dink. Die Heilige Gees wíl en sál jou help. Sy reënwater maak jou sielstuin gereed vir onkruid uittrek.
Daar is soveel goeie en positiewe dinge waarop ’n mens eerder kan fokus. Sien die pragtige sonsondergange raak, veral in Langenhovenpark hierdie tyd van die jaar. Luister na opbouende Christelike musiek, of kyk ’n komiese video op YouTube. So wen jy die stryd teen die onkruid in jou gedagtes.