Daar is talle gemeenskapsradiostasies in Suid-Afrika, maar opleidingsgeleenthede om die stasies se personeel te ondersteun sodat die stasie kan groei en verbeter, is beperk.
Bernie Naudé, algemene bestuurder van Rosestad 100.6FM in Bloemfontein, het hierdie leemte raakgesien en die kennis wat hy die afgelope bykans 24 jaar in die bedryf opgedoen het, in ’n boek vervat. Sy kennis spruit uit ’n diep passie vir musiek en radio en ook die tyd toe hy sewe jaar lank gewerk het vir die provinsiale departement van sport, kuns, kultuur en ontspanning wat direk betrokke was by die ondersteuning van kleiner gemeenskapsradiostasies. Dit is hier waar hy gesien het hoe stasies dikwels om die verkeerde redes begin word en uiteindelik nie volhoubaar is nie.
In Radio: ’n Bespreking van basiese beginsels skryf Naudé ’n gemeenskapsradiostasie behoort aan ’n gemeenskap.
“Dit moet voldoen in ’n behoefte van die gemeenskap. Juis om hierdie rede is daar soveel radiostasies op die platteland. Hulle is almal uniek, maar kan hierdie unieke mark van hulle soveel beter ontgin met kennis van die basiese beginsels van die bestuur van ’n radiostasie.”
Naudé sê in Rosestad se bestuur het hulle meer as 90 jaar se ondervinding in die bedryf. “Ons het as bestuur gereeld ander gemeenskapstasies besoek en gesien dat ons ’n positiewe bydra kan maak om hulle te help groei.”
Hy sê daar is baie literatuur en kort kursusse beskikbaar, maar baie daarvan is gemik op die buitelandse mark en saamgestel deur oorsese kenners.
Die boek help bestaande gemeenskapsradiostasies, maar ook entrepreneurs wat van nuuts af so ’n stasie wil begin.
“Dit is soos radio 101. Van die bestuur van die stasie tot ’n stylgids vir aanbieders en die belangrikheid van geloofwaardige nuus.”
Naudé sê die goue era van die stem is lank reeds verby, maar dit is geen rede waarom omroepers nie professioneel kan wees nie.
“Die skryf van die boek was ’n ware liefdestaak. Ons wou graag die bedryf ’n hupstoot gee en mense help om dit waarvoor hulle lief is, so goed as moontlik te bedryf.”
Radio: ’n Bespreking van basiese beginsels is by Rosestad se kantoor beskikbaar.