Die Rebel Conspiracy Motorcycle Club van Bloemfontein maak Saterdag 29 November hul harte oop vir twee kinders wat in 2023 erge brandwonde opgedoen het.

Dit is vanjaar die negende keer dat die Rebel 500-dag aangebied word. Vanjaar gaan meer as 170 motorfietsryers van oor die land heen aan dié dag deelneem.

Die roete strek oor 500km en begin by The Buffalo in Kelly’s View buite Bloemfonteinen en loop van daar deur Koffiefontein, Vanderkloof, Oranja, Kimberley, Petrusburg en terug tot by The Buffalo.

Marelize Botha van Rebel Conspiracy MC sê die roete gaan deur talle kleiner dorpies sodat die motorfietryers plaaslike ondernemings daar ook kan ondersteun.

Met die uitstappie word daar altyd uitgereik na mense in nood.

Vanjaar word ‘n bydra gemaak vir die twee kinders Luandre (4) en sy sussie Mianay Verwey (6) van Gordonsbaai.

Die twee het in 2023 derdegraadse brandwonde oor groot dele van hul lyfies opgedoen toe die motor waarin hulle was, aan die brand geslaan het.

Die geld wat ingesamel word, gaan vir hul mediese kostes en skoolgeld.

Die Rebel 500 ondersteun ook vanjaar Athalia se Huis Liefde met nuwe matrasse, beddegoed en skoonmaakmiddels.

Kostes vir die roete is R150 en dagbesoekers betaal R100.

Hilton Crest tree om 14:00 by The Buffalo op en Scallywag om 20:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article