Met ’n dankbare hart vertel Lientjie Mentz, redakteur van BloemNuus uit haar hospitaalbed in die Mediclinic Hoogland in Bethlehem van haar ondervinding toe sy sowat 10 m ver op ’n staproete in die Drakensberge geval het.
Die 49-jarige Bloemfonteiner sê vir haar is die ongelooflikste van die hele val-ervaring die omgee en hulp van haar eie stapmaats tot die ander stappers, dr. Lena-Marie Botha en Stephen Richart van Mountain Rescue, wat haar en haar medestapmaat, Martin Austin (53), wat minute voor haar geval het, gehelp het.
Lientjie sê sy en Martin was lede van ’n stapgeselskap wat van Saterdag tot Woensdag in die Drakensberge sou stap. Die geselskap het teen Gray se pas afgeklm toe die ongeluk omstreeks 12:00 gebeur het. Die twee ervare stappers vermoed die sterk wind het tot die voorval bygedra.
“Ek het gesig eerste vir so 10 m teen ’n helling afgeval. Toe ek myself gestop kry, sien ek die bloed stroom uit my skewe voet uit. My voet het langs my been gehang”, vertel sy.
Sy vertel die adrenalien het seker gehelp dat sy niks pyn gevoel het nie, hoewel haar skeenbeen sleg gebreek het en ’n stuk van die kuitbeen uitgesteek het. “Dit was nie seer nie, ek het net gevoel my voet is los.”
Die reddingspan het haar sowat 200 m op ’n draagbaar gedra tot waar die lugambulans kon land. Lientjie sê dit was duidelik dat al die spanlede van die reddingspan presies weet wat hulle doen.
Lientjie het Woensdagoggend ’n noodoperasie ondergaan nadat sy die kuit- en skeenbeen in haar regterbeen gebreek het.
Lientjie en Martin (’n oud-Bloemfonteiner wat nou in Somerset-Wes woon) is per lugambulans na die Dragon Peaks-bergoord gebring en van daar per ambulans hospitaal toe geneem.
Martin, ’n binnenshuise versierder, is ook Woensdag geopereer maar hy is reeds ontslaan. Lientjie word môre ontslaan. Albei gaan vir minstens ses weke buite aksie wees.
Lientjie sê haar voet is nog bietjie seer, maar sy kom al goed met die krukke reg.
- Jens Friis (50) voormalige redakteur van BloemNuus is vandag in die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein geopereer, nadat hy ook Dinsdag sy regterenkel op twee plekke gebreek het. Hy het op Kanonkoppie by Philippolis skeef getrap en sy voet het onder hom ingevou. Hy sê dit het soos ’n geweerskoot geklap toe sy been breek. Die swelling was te erg en daarom is hy eers vandag geopereer.