Vir personeel – veral redaksielede – van Volksblad, asook lede van die publiek en selfs bekendes en berugtes, hou Volksbladse ou redakteurskantoor baie herinneringe in.
’n Spesiale redakteurskamer met meubels, aandenkings, foto’s en uitgawes van die laaste gedrukte koerante uit dié kantoor, wat in die ou gebou by Nelson Mandelarylaan 79 was, is Vrydag (10/03) op ’n geselligheid as deel van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) se vieringe van sy 50ste bestaansjaar geopen.
Wyno Simes, kurator van Naln, sê toe Gert Coetzee, vorige redakteur van Volksblad, hom nader oor die moontlikheid dat so ’n vertrek met meubels uit die redakteurskantoor by Naln ingerig word, het hy onmiddellik ingestem.
Dit het gekom nadat die span van Netwerk24, Volksblad en Sentraal24 na ’n nuwe perseel by Pres. Reitzlaan 107 in Westdene verhuis het en al die meubels en aandenkings nie saam kon trek nie.
“Vir my gaan Naln en die geskrewe woord hand aan hand,” het Simes op die opening gesê.
“Soos baie ander het ek met Volksbladgrootgeword.
“Dit was vir my vanselfsprekend dat die meubels en aandenkings van Volksbladhier tuishoort. Dit is vir my lekker datVolksblad ons 50ste verjaardag op so ’n wyse saam met ons vier.”
Drie oudredakteurs – Paul Marais (1994 tot 1999), Jonathan Crowther (1999 tot 2009) en Gert Coetzee (2015 tot 2022) – asook talle oudredaksielede, redaksielede wat vir Netwerk24 en Sentraal24 werk en gaste het die geleentheid bygewoon.
Die oudredakteurs, asook Dirk Kok wat sedert Januarie redakteur van die digitale Volksbladop Netwerk24 is, het hul herinneringe aan die redakteurskantoor en staaltjies met die gehoor gedeel.
Die publiek kan nou die kamer op die boonste verdieping van Naln gaan besoek. Daarin is onder meer die geskiedkundige lessenaar waarby Volksblad se 13de redakteur, dr. A.J.R. van Rhyn (1925 tot 1948) gesit het en wat deur wyle Jan Scholtz (’n hoofredaksielid) gerestoureer is.
Sedert 1986 het sewe redakteurs by dié lessenaar gewerk.
Talle ander aandenkings word ook nou by die Nasionale Museum, die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke en by die Vrystaatse Argief vir Kontemporêre Sake (Arca), asook by die Vrystaatse Rugbyunie, bewaar.
Naln, wat op 24 Maart 1973 geopen is, se vieringe van sy 50ste bestaansjaar het reeds Donderdag (09/03) begin.
Prof. Bernard Odendaal, oudhoof van die ATKV-skryfskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), het die feesrede gelewer.
Hy het gepraat oor die verskuiwing van die woord, uit die mond op papier en tot op die digitale skerm en hoe dit veral in die digkuns moontlikhede skep.
Saterdag het Leana Lategan, afgetrede hoofvakkundige van Naln, en Kobus du Preez, argitek en dosent aan die departement argitektuur aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), gesels oor onderskeidelik die geskiedenis en die gebou waarin dié museum vandag geleë is.
- Die program word vanaand (16/03) voortgesit met die bekendstelling van die Pool prof. Jerzy Koch se tweede Afrikaanse digbundel, Polkadraai. Dit begin om 18:00 by Naln.
Op 11 Mei stel Hertzogpryswenner Johan Myburgh sy bundel Narreskipbekend.