Reeks eindig

Die afgelope naweek was bedrywig met agt skole wat in die finale wedstryde van die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks meegeding het.


Die afgelope naweek was bedrywig met agt skole wat in die finale wedstryde van die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks meegeding het.

Daar was groot vreugde toe die eerste rugbyspan van die Hoërskool Fichardtpark in ’n opwindende wedstryd teen die span van die Hoërskool Trio kragte gemeet het.

Dit was ’n titaniese stryd wat tot in die laaste minuut in die weegskaal was.

Hierdie was werklik ’n vertoonvenster vir skolerugby. Teen die einde kon die Fichie-Leeus die wedstryd deurtrek met ’n naelskraap-oorwinning van 28 – 25.

Trio het met ’n verbete terugvegpoging by die eerstespan meisieshokkie-wedstryd ’n gelykopuitslag van 3 – 3 afgedwing.

Fichies se eerste netbalspan het die krane aan die einde oopgedraai nadat die wedstryd aanvanklik gelykop was. Die eindtelling was 31 – 24 in Fichies se guns.

Die hoogtepunt van die dag was die eerstespan seunshokkie-wedstryd waar die twee topspanne op die Wesgrow-punteleer mekaar die stryd aangesê het.

Die hokkiewedstryd het nie teleurgestel nie. Die Fichie-manne wen met 2 – 0 en sal waarskynlik later die Wesgrow-beker vir die tweede jaar in ’n ry omhoog hou.

In die ander wedstryde wat in Bloemfontein beslis is, was dit die Hoërskool Sentraal teen die Hoërskool Goudveld.

Sentraal se o.16-, o.15- en o.14-rugbyspanne het uitgeblink met oorwinnings oor Goudveld met die o.19C-span wat ook gewen het.

Die seunshokkie-spanne van Sentraal het goeie oorwinnings behaal met die eerste span wat Goudveld met 3 – 2 getroef het.

In Bethlehem het die Hoërskool Jim Fouché teen die Hoërskool Voortrekker meegeding. Voortrekker se eerste netbalspan het sy netbalseisoen afgesluit as Wesgrow-naaswenners.

Die span moes die knie buig voor ’n gedugte JF-span wat behoorlik hard geveg het. Ná die eerste kwart was JF reeds met 13 – 5 voor en teen halftyd met 23 – 15.

Hoewel die verdediger, Marilé Jonck, uitstekend gevaar het op HV, was die doele van JF baie sterk.

Derde kwart telling was 34 – 21 en eindtyd 29 – 43.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.