Reën kry skuld vir leë krane

Bloemfonteiners het die afgelope week weer baie gesukkel met krane wat weens verskeie redes leeg was.


Bloemfonteiners het die afgelope week weer baie gesukkel met krane wat weens verskeie redes leeg was.

In ’n nuusverklaring het Bloem­water Maandag (10/01) gesê dat die Welbedachtdam meer as die normale invloei het weens onlangse reën in die Caledon­rivier se opvanggebied.

Volgens Bloemwater het die rou water wat by die dam ingevloei het, die pomptoerusting erg beskadig.

Die hoë mate van sediment en opdrifsels het die invloei na die watersuiweringsaanleg verder verminder.

Volgens die woordvoerder van Bloemwater beïnvloed dit die verskaffing van behandelde water negatief en moet herstelwerk gedoen word voordat die watertoevoer na normaal kan terugkeer.

Veral die vlakke van die Brandkop-reservoir is deur die probleme by die Welbedachtdam-suiweringsaanleg geraak.

Volgens Bloemwater word daar hard gewerk om die uitdagings by die aanleg op te los.

Rossouw Botes, DA-raadslid, sê daar is gereeld probleme met Bloemfontein se watertoevoer.

Verlede week het die noorde van die stad met leë krane gesit omdat daar nie chloor was om water te suiwer nie.

Oor die naweek was daar weer nie genoeg water wat gesuiwer kon word nie.

“Pellissier se krane het die naweek leeggeloop. Daar is Saterdag (08/01) deur die dag ’n beperkte hoeveelheid water aan die Brandkop-reservoir gelewer.

“Die ander reservoirs in die suide se vlakke was ook baie laag, en Longridge se twee reservoirs was so te sê leeg.”

Botes sê in Desember het Bloem­water ook beperkte water gelewer.

“Wat inwoners in dié tyd gehelp het, is die feit dat die stad bykans elke dag reën gekry het en inwoners nie hul tuin moes natlei nie.

“Van die inwoners was ook weg met vakansie. Dit het gehelp dat die waterverbruik laer was as in normale omstandighede.

“In Desember het ek 12 dae lank, twee tot drie keer per dag, die vlakke van die reservoirs in Bloemfontein gemoniteer.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.