Met die afgelope week se waterkrisis in die suide van die stad nog vars in die geheue, is inwoners maar benoud wanneer die wolke saampak nadat baie reën reeds in Januarie geval het.
Qondile Khedama, bestuurder van kommunikasie vir die Mangaung-metro, het inwoners juis Dinsdag (18/01) in ’n nuusverklaring gewaarsku nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens nog swaar reën Woensdagmiddag en -aand voorspel het – veral vir dorpe oos van die stad.
Talle huise in laagliggende dele van die stad en in Ferreira het al waterskade opgedoen.
Inwoners van Pellissier wat teen Vrydag (14/01) keelvol was omdat hulle teen daardie tyd al ’n week nie water gehad het nie, het na Bloemwater opgeruk.
Dit het gekom nadat Bloemwater op 10 Januarie in ’n nuusverklaring gesê het dat die pompe by die Welbedacht-pompstasie nie werk nie weens die groot hoeveelheid sediment en opdrifsels in die water uit die Caledonrivier wat verwyder moes word.
Bestuurslede van Bloemwater het Vrydag op kort kennisgewing ingestem om ’n noodvergadering met inwoners van Pellissier te hou en hul griewe aan te hoor.
Op die vergadering het Maruping Rapudungoane, uitvoerende hoof van bedryf en instandhouding vir Bloemwater, gesê water sou van Saterdag af soggens en saans vir inwoners van Pellissier deurgelaat word om kapasiteit te bou. Dit het egter nie gebeur nie.
Inwoners in die hoogliggende dele van Pellissier was teen Maandag (17/01) tien dae sonder water. Op dié dag het 15 woonbuurte van die stad wat water van Bloemwater ontvang, eers weer teen laatnag iets in die krane gehad.
Dit was Dinsdagoggend die eerste keer in tien dae dat sommige inwoners van Pellissier weer water gehad het.
Maandag het Bloemwater in ’n verklaring verduidelik dat nog water die naweek ná reën by die pompstasie ingevloei het, wat die uitpomp van water verder bemoeilik het. In dié verklaring is gesê dat twee van die pompe toe reeds herstel was en water teen Maandag-middag na die stad gepomp sou word.
DA raadslid Rossouw Botes sê hy is oorval deur klagtes van inwoners van Pellissier en, teen Maandag, ook ander woonbuurte.
“Teen Maandag-aand het die meeste van die mense weer water gekry, maar dele van Fleurdal, Uitsig en Generaal de Wet het teen Dinsdag etenstyd steeds met droë krane gesit,” sê Botes.
Nico Gerber, voorsitter van Trots Pellissier wat Vrydag die vergadering by Bloemwater bygewoon het, sê dit is goed dat inwoners ’n slag saamgestaan het oor ’n saak wat dié woonbuurt so ernstig raak.
Botes sê hy hoop die nuwe reservoir vir Pellissier word nou as voorkeursaak oorweeg, aangesien Pellissier gereeld met watertoevoer sukkel.