‘Regering luister nie na Eskom’

Die fase 4-beurtkrag wat Dinsdag (19/04) ingestel is, kan moontlik nog tot Vrydag duur.


Die fase 4-beurtkrag wat Dinsdag (19/04) ingestel is, kan moontlik nog tot Vrydag duur.

Dit skep nie net ongerief nie, maar ook verliese aan inkomste vir plaaslike ondernemings.

Sommige kruidenierswinkels in Bloemfontein moes vars produkte teen korting verkoop omdat kragopwekkers nie genoeg krag lewer nie.

Die regering versuim al agt jaar om gehoor te gee aan Eskom se pleidooi dat nuwe opwekkings­vermoë gebou moet word.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, sê die instelling van fase 4-beurtkrag is ’n wekroep dat die gesloer nie kan voortduur nie. Ondanks talle bodgeleenthede vir onafhanklike kragprodusente versuim die regering om die konstruksie van nuwe opwekkingsvermoë te prioritiseer.

“Dis eenvoudig: Om beurtkrag op te los, benodig ons 4 000 megawatt (MW) tot 6 000 MW nuwe opwekkingsvermoë – en ons benodig dit vinnig.”

De Ruyter sê sedert 2014 is geen nuwe kragprojekte voltooi nie.

Hy sê die onbetroubare reeks ou steenkoolkragstasies is al lank nie meer genoeg om in die land se kragbehoefte te voorsien nie. Die regering luister egter nie.

Selfs met bestaande onafhanklike kragprodusente van die eerste vier bodrondes kan honderde MW tot die kragnetwerk bygevoeg word, reken De Ruyter.

Hy sê tot 700 MW kan blitsvinnig bygevoeg word indien die regering net ’n “paar wysigings” aan regulasies bewerkstellig.

Daar is byvoorbeeld 200 MW bykomende opwekkingsvermoë wat die onafhanklike kragprodusente nou beskikbaar het, maar nie aan Eskom mag verkoop nie.

Boonop kan nog honderde MW bekom word vanaf dié bestaande kragprodusente as rompslomp en bottelnekke in die toekenning van kontrakte vir uitbreidings aan bestaande aanlegte net gewysig word. Eskom probeer ook om binne sy vermoë verdere kontrakte met onafhanklike kragprodusente aan te gaan, maar weer sloer die departement van minerale bronne en energie.

Die een projek wat Eskom op sy eie kan bewerkstellig sonder die goedkeuring van die departement is sy Mpumalanga-grondprojek. Hierdeur beoog Eskom om onafhanklike kragprodusente aan te spoor om die verslapping van die regulasies vir selfopwekking sonder ’n lisensie tot 100 MW te benut deur sy eie grond om bestaande kragstasies beskikbaar te stel vir 20-jaar-huurkontrakte.

De Ruyter sê op die eerste beleggersoproep onlangs was daar 64 partye wat belang gestel het.

“Dis ’n uitstekende getal.”

Eskom sukkel om sy kragstasies aan die gang te hou en kan nie die hoër vraag na krag hanteer nie.

In gevalle waar die kragstasies puik presteer, kan die steenkoolkragstasies nog net-net genoeg krag opwek, maar daar is nie spaarkapasiteit waarop Eskom kan terugval nie.

Phillip Dukashe, hoof van opwekking van Eskom, sê die kragnetwerk verkeer weens verskeie faktore onder erge druk. Daar is probleme met nat steenkool weens die swaar reënval in die noorde van die land. Dit beteken Eskom moet meer olie gebruik om die verbranding van die steenkool in die ketels van die kragstasies aan die gang te kry.

Weens die gedeeltelike sluiting van die Durbanse hawe as gevolg van die onlangse oorstromings, is Eskom se toegang tot die spesiale olie wat verbranding in sy krag­stasies bewerkstellig, in die wiele gery.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.