sensus

Phinah Kgafela is een van die veldwerkers wat met Sensus2022 gaan help.

Die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, het Woensdag (02/02) Sensus 2022 in Bloemfontein bekend gestel.

Suid-Afrika se vierde sensus sedert die aanvang van demokrasie het begin en Suid-Afrikaners kan vir die eerste keer aanlyn aan die sensus deelneem.

“Dit is belangrik dat ’n ieder en ’n elk in die land daaraan deelneem,” het Trevor Oosterwyk, kommunikasiehoof van Statistieke Suid-Afrika (SSA), wat die sensus doen, gesê.

“ ’n Sensus is die proses waarvolgens almal in die land getel word om die grootte van die bevolking vas te stel.

“Die sensus word nie net op nasionale vlak uitgevoer nie, maar strek tot op munisipale vlak. Dit sal dus vir ons aandui indien mense na ander gebiede verhuis het, wat ons sal wys dat meer skole, meer winkels en meer hospitale in daardie gebiede gebou moet word.”

Nog ’n belangrike rede hoekom mense aan die sensus moet deelneem, is omdat dit munisipaliteite se begrotings, vir onder meer dienslewering, raak.

Teen druktyd is verneem dat die premier die geselligheid by Torings van Hoop in die Bloemfonteinse middestad bekend sou stel. Die proses waarvolgens die sensus plaaslik sal plaasvind, sou uiteengesit word en daar sou ook met die sensus begin word deur van die hawelose mense in die stad te tel.

“Hoe groter die bevolking van die munisipaliteit, hoe groter sy begroting. Bevolkingsgrootte het ’n enorme uitwerking op begrotings,” het Oosterwyk verduidelik.

Almal in die land sal tussen 2 en 28 Februarie getel word.

“Of jy nou ’n Suid-Afrikaner is of nie, of jy wettig of onwettig in die land is – almal word getel.”

Daar sal van drie maniere gebruik gemaak word.

“Beamptes sal mense kontak om hul inligting te kry, of mense kan aanlyn of telefonies aan die sensus deelneem.

“Dit is wel belangrik om teen 5 Februarie aanlyn te registreer indien jy van dié opsie gebruik wil maak.

“Vir diegene wat nie op hierdie maniere kan deelneem nie, sal veldwerkers uitgestuur word wat van huis tot huis sal gaan om die inligting in te samel.”

Oosterwyk sê byna 165 000 veldwerkers is aangestel en ontplooi om van huis tot huis te gaan.

Hy sê die SSA het wel begrip­ vir mense se huiwering om vreemdelinge in hul huis toe te laat.

“Die veldwerker wat na jou huis kom, sal ’n groen hemp en ’n swart hoed dra. Hy sal ook ’n SSA-identifikasiedokument hê met ’n unieke nommer daarop. Jy kan daardie nommer op die SSA-webwerf of deur die inbelsentrum verifieer.”

Die sensus moes verlede jaar al plaasgevind het, maar is weens die Covid-19-pandemie uitgestel.

Oosterwyk het by navraag gesê vanjaar se sensus gaan die SSA sowat R3,2 miljard uit die sak jaag.

Só werk dit

  • Registreer voor 5 Februarie op getcounted.statssa.gov.za om aan die aanlyn of telefoniese sensusopname deel te neem.
  • Die webwerf sal basiese kontakbesonderhede soos woonadres en selfoonnommer vra.
  • Gebruikers kan kies om die sensus telefonies of aanlyn te voltooi.
  • Die webwerf sal ’n enkel­gebruikkode verskaf (soos met aanlyn bankdienste). Nadat dié kode op die webwerf ingesleutel is, sal gebruikers nog ’n paar vrae oor die aard van hul woning moet beantwoord.
  • Wanneer die registrasie voltooi is, sal die webwerf ’n unieke kode as verwysing verskaf.
  • Afhangend van die gebruiker se keuse sal die SSA daarna telefonies of per e-pos in verbinding wees om die opname te voltooi.
  • Diegene wat die sensus aan huis wil voltooi, kan die sensuswebwerf by census.statssa.gov.za besoek of die tolvrye hulplyn­nommer vir die geleentheid, 0800-110-248, skakel om te bevestig of die veldwerker wat aan die deur klop, wel ’n amptelike sensusopnemer is.

Die veldwerker wat na jou huis kom, sal ’n groen hemp en ’n swart hoed dra.– Trevor Oosterwyk, kommunikasiehoof van Statistieke Suid-Afrika

You need to be Logged In to leave a comment.