Registreer maklik dié naweek om in 2024 te kan stem

Stemgeregtigde kiesers in Suid-Afrika het Saterdag en Sondag die geleentheid om hul registrasies op te dateer, of hulle vir die eerste keer te registreer om in 2024 te stem.


Stemgeregtigde kiesers in Suid-Afrika het Saterdag en Sondag die geleentheid om hul registrasies op te dateer, of hulle vir die eerste keer te registreer om in 2024 te stem.

Werner Horn, provinsiale voorsitter van die DA asook verkiesingsbestuurder in die Vrystaat en die DA se nasionale verteenwoordiger by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), sê die naweek se registrasie is ’n belangrike stap vir almal wat ’n verandering in die land wil sien. “Mense se stemme in volgende jaar se verkiesing kan ’n groot verskil maak. Suid-Afrikaners moet verantwoordelikheid neem vir hul toekoms. Dit help nie om net om die braaivleisvuur te mor oor alles wat verkeerd is nie,” sê hy.

Hy sê daar is nou 13 miljoen stemgeregtigde Suid-Afrikaners wat nog nie op die kiesersrol is nie.

“Dit is meestal mense tussen 18 en 30 jaar wat nog nooit geregistreer is nie of wat onlangs 18 jaar oud geword het,” sê hy.

Horn sê dit belangrik om daarop te let dat die Kieswet verander het wat betref waar kiesers in 2024 se provinsiale en nasionale verkiesing kan stem.

“Kiesers sal net kan stem by die kiespunt wat bepaal word deur waar hulle woon. Vroeër kon mense enige plek in die Vrystaat vir hul provinsiale party stem deur slegs ’n vorm in te vul, maar dit gaan nie volgende jaar so werk nie.”

Hy sê dit is wel hierdie naweek moontlik om by enige registrasiepunt te registreer, wat dit maklik maak vir mense wat in ander dele van die provinsie of land is.

Kiesers kan hulle ook op die OVK se webblad elections.org.za registreer.

Nog ’n maklike metode om jou registrasie na te gaan, is om jou ID-nommer na die SMS-nommer 32810 stuur. Geregistreerde kiesers kry vinnig daarop ’n antwoord oor waar hul naaste stempunt is. Mense wat egter die afgelope vier jaar sedert die vorige nasionale en provinsiale verkiesing in 2019 verhuis het, moet hul adres opdateer.

Mangaung het 378 OVK-registrasiepunte. Hulle sal Saterdag en Sondag daagliks van 08:00 tot 17:00 oop wees vir registrasies en die nagaan van registrasies.

You need to be Logged In to leave a comment.