Die DA-koukus in die Mangaung-metro gaan ’n regsmening inwin ná ’n besluit op die raadsvergadering wat die metro toestemming gee om sonder behoorlike prosesse ontwikkeling van laekostebehuising in die metro toe te laat.
Die voorstel van die ANC het op Dinsdag 1 Oktober op die raadsvergadering gedien en 57 raadslede het daarvoor gestem –terwyl die DA, VF Plus en PA daarteen gestem het. Hulle het daarvoor gestem dat die voorstel na die komitee terugverwys word.
Daar word in die voorstel verwys na grondgebied in die metro waar dorpstigtingsprosesse vir geïntegreerde ontwikkeling reeds goedgekeur is. Dit sluit plekke soos Ceciliapark, Lourierpark en Brandkop in.
DA-raadslid Tjaart van der Walt sê die besluit is teenstrydig met wetgewing en waarskynlik ook die hofbevel wat oor die onwettige besetting van die grondgebied by Lourierpark toegestaan is.
“Mangaung gee basies op om ordelike ontwikkeling te doen en kan moontlik probeer om mense op enige munisipale grond te vestig sonder volledige beplanning. As hulle dit misbruik, kan dit groot onheil spel”, sê hy.
Henry Denner van die VF Plus sê hoewel dit inwoners se grondwetlike reg is om voldoende behuising te hê, oortree die metro daagliks mense se regte.
“Wat is die planne om voldoende infrastruktuur te lê om te voldoen aan die behoefte in hierdie beplande ontwikkelings-gebiede?” het Denner in sy toespraak gevra.