Die Mangaung-metro het te kenne gegee dat hy inwoners nie gaan toelaat om vrystelling te kry van ’n munisipale rekening net omdat hulle self vir vullisverwydering betaal nie.
Selfs voordat die uitspraak gekom het in die hofsaak in die hooggeregshof in Bloemfontein ingevolge waarvan die Woodland Hills-landgoed nou self sy vullis kan verwyder en nie die metro vir die diens hoef te betaal nie, het AfriForum aansoek gedoen om vryskelding namens inwoners wat daarvoor aansoek doen.
Marietjie Gericke van Netwerk24 het begin Januarie berig regter Pitso Molitsoane het op 13 Desember ten gunste van die Hillandale Homeowners Association teen die Mangaung-metro bevind.
Regter Molitsoane het gesê hy stem saam met die vereniging se betoog “dat die voorsiening van ’n vullisverwyderingsdiens ’n munisipale uitvoerende en wetgewende bevoegdheid is en ’n diens is wat munisipaliteite gewoonlik lewer”, maar dat dit nie ’n reg is nie.
AfriForum het reeds in November ’n versoekskrif wat deur 700 inwoners van Bloemfontein geteken is, aan die Mangaung-metro oorhandig waarin dié inwoners versoek om nie meer die metro vir ’n vullisverwyderingsdiens te betaal nie.
Dié inwoners maak reeds van private vullisverwydering gebruik, of is bereid om dit te doen.
Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, sê hulle oorweeg nou regsaksie teen die metro.
“Ons het geen ander keuse as om regstappe teen die Mangaung-metro te doen nie. Inwoners het die reg om aansoek te doen om hul munisipale vullisverwydering te staak en dié diens van hul munisipale rekening te laat verwyder.
“Baie inwoners is nou moeg daarvoor om dubbele koste te dra net om hul vullis stiptelik te laat verwyder en toe te sien dat hul woonbuurt nie in ’n vullishoop ontaard nie.”
Volgens Groenewald word vullis net sporadies in Bloemfontein verwyder en dit, meen hy, hou ’n omgewingsrisiko in en skep boonop geleenthede vir sogenaamde sakgrawers en diere om die vullissakke oop te skeur en daardeur rommel verder te versprei.
Dit hou ook ten opsigte van misdaad ’n potensiële risiko vir inwoners in.
“Ons glo dat dié afvalbestuurskrisis in die metro dringende aandag vereis en dat die metro se versuim om op te tree onaanvaarbaar is.”
AfriForum het sedert Augustus 2023 die gemeenskap bygestaan om hul aansoeke om kansellasie in te dien.
“Ons moedig die Bloemfontein-gemeenskap aan om hul aansoeke om kansellasie in te dien en, met die oog op ’n skoner én veiliger Bloemfontein, aan te sluit by AfriForum se veldtog vir vullisverwydering.”
Volg dié skakel en
dien vandag nog jou aansoek in en sluit aan by AfriForum se
vullisverwyderingsinisiatief:Kliek hier