Sy is ’n mooi, klein vroutjie met ’n vriendelike, sagte glimlag.
Bloemfonteinse kunstenaar Sann van den Berg-Sauer wag vir my voor ’n plaashuis se hek. Haar man, Hans, staan in die duiwehok daarnaas, omring deur duiwe.
Dit is ’n prentjie wat my dadelik tuis laat voel.
Ek stap 13:00 op ’n weeksdag by hul kunstige huis in, die heerlike reuke van kos verwelkom my.
Ek en Sann stap eers deur die huis en gesels oor haar kuns, sy gaan wys my haar lekker ingerigte hoekie in die spaarkamer waar sy skilder en ons bespreek haar skilderye, baie daarvan geïnspireer deur die natuur en deur haar reise.
Ons gaan sit aan vir ete en gesels gemaklik asof ons mekaar al jare ken, ek ry vervuld en geïnspireer daar weg nadat ek vir Sann ’n paar vrae gevra het:
Hoe en wanneer het jy begin skilder?
As kind het ek graag prentjies geteken, ingekleur en uitgedeel.
Later as jong mamma het ek graag kunswerke uit blomme geskep en blompotte geverf.
Eendag het my man, Jakes, wat intussen oorlede is, ’n stelletjie goedkoop waterverf vir my as geskenk gegee.
Daarna het ek nooit weer ophou verf nie. Ek het myself uit baie boeke geleer skilder en later met akriel begin werk. Vandag werk ek meestal in olieverf.
Het jy ’n kreatiewe proses of gewoontes wat jou kreatiwiteit help aanwakker?
My grootste inspirasie gebeur wanneer ek in die natuur stap. Ook om deur galerye te stap en die kreatiwiteit van ander te bewonder.
Watter raad sal jy gee aan iemand wat pas hul kunsloopbaan begin het?
Wanneer iemand begin, moet hy elke dag skets en skilder. Ek glo ’n mens moet die litte los hou en luister na kritiek. Wees getrou aan jouself.
Is daar enige spesifieke temas of boodskappe wat jy deur jou kunswerk wil oordra?
Ek het nie spesifieke temas nie, ek wil net graag die wonder van die natuur en die goedheid van God aan ander oordra.
Wat lê vir jou na aan die hart?
Ons is by liefdadigheid betrokke. Ek en Hans is bevoorreg om betrokke te wees by die Yadé-huise. Daar is ’n hele paar van hierdie tehuise in die stad waar mense bly omdat hulle nie ’n aftreeoord kan bekostig nie.
Ek besoek vier tehuise per week, hou Bybelstudie, gesels, lag en moedig maar ’n bietjie aan.
Ek moes leer om myself te gee. Minder van my, maak meer plek vir die Heilige Gees om my Meester aan hulle oor te dra.
Jy het al heelwat gereis. Hoe het dit vir jou inspirasie gebring?
Die voorreg om te reis het vir seker baie vir my as mens en kunstenaar beteken. Die uiteenlopende argitektuur, kleure, atmosfeer en heerlike kos is verrykend.
Van die klam, groen woude van Nieu-Seeland tot die velde en ruwe geboutjies van Spanje, en heerlike paella ná ’n dag se stap op die Camino . . .
Is daar enige kunstenaars of kunsbewegings wat ’n invloed op jou kuns gehad het?
Ek kyk op na kunstenaars soos Irma Stern, Jean Welz en William Kentridge, om net ’n paar te noem.
- Mariaan Kotze is ’n is ’n Bloemfonteinse kunstenaar en kunskorrespondent.



