Vrystaat-atlete het agt Suid-Afrikaanse rekords verbeter, en 31 goue, 15 silwer- en 16 bronsmedaljes verower, op die Suid-Afrikaanse Nasionale Kampioenskap vir Persone met Gestremdhede (SASAPD), wat van 23 tot 25 Maart in Bloemfontein aangebied is.
Die Vrystaatspan bestaande uit 33 atlete het in verskeie sportsoorte – waaronder swem, boccia, doelbal, sokker, atletiek en fietsry – meegeding.
Die atlete wat rekords verbeter het, sluit in:
- PJ Klopper (o.20) van Zastron het twee rekords op sy naam: een in spiesgooi (T/F13) vir 27,97 m, en in hoogspring het hy die rekord na 1,85 m verbeter.
- Arina Nicolaisen van die Universiteit van die Vrystaat het die rekord in die 400 m (T38) verbeter. Sy het ook goud in die 800 m verower.
- Mpho Mphulenyana (o.14) van die Tswellang Spesiale Skool het twee rekords in sy klas (F53) verbeter: in diskus met 8,72 m en in spiesgooi met die rekord op 4,98 m.
- Simphiwe Ditshaba (o.17) van die Hoërskool Sandveld het die rekord in die 100 m (T61) tot 16,82 m verbeter. Sy het ook goud in spiesgooi en in die 220 m verwerf.
- Liné Maree van die Hoërskool Bultfontein het die rekord vir diskus (F36) tot 8,81 m verbeter en sy het goud vir gewigstoot gekry.
- Lefa Scheepers (o.17) van die Maluti-skool het die rekord vir die 400 m (T37) tot 12:01.18 verbeter.
Die Vrystaat se voetbalspan vir serebraal gestremde spelers het ’n goue medalje verower nadat hy al drie sy wedstryde teen Noordwes, Gauteng en die Oos-Kaap gewen het. Thabiso Galeboe is as die beste doelwagter in die toernooi aangewys.
Die Vrystaat-fietsryspan het die fietsrykompetisie gewen en het in die tydtoets en padwedren uitgeblink.
Dié groep was die grootste fietsryspan van die Vrystaatse sportvereniging vir mense met liggaamlike en siggestremdhede (FSSAPD) wat tot nog toe aan die nasionale kampioenskap deelgeneem het. Dit behels baannommers, ’n tydtoets en ’n padwedren.
Die baannommers is op 22 Maart by die Mangaung-atletiekstadion beslis. Die tweewiele het aan ’n 1 000 m- en ’n 3 000 m-wedren deelgeneem en die driewiele aan ’n 800 m- en die 1 500 m-wedren.
Hier het Vrystaat 23 goue, 13 silwer- en 6 bronsmedaljes gewen. Onder andere Nicisha Slabbert, Seiso Shaliba, Lehloane Leshoro en Jimmy Ozoude het uitgestaan.