Sjokolademousse

Foto: Suid-Afrikaanse pluimveevereniging

Met hoender-eiers kan jy ’n aandete kook, die lekkerste ontbyt bedien, asook nagereg en gebak maak wat die mond laat water.

Eintlik is eiers een van die wonders wat die natuur aan ons bied. ’n Handvol eiers bied hoëgehalte voedingstowwe en voeg smaak en luuksheid by enige maaltyd.

Dit is ook nie so duur nie, en met ’n pak eiers wat jy by enige supermark of hoek-kafee kan kry, kan jy regtig lekker kook.

Die Internasionale Eierkommissie (ja, daar is so iets!) sê eiers is die mees ekonomiese manier om mense oor die wêreld heen hoëgehalte proteïen te laat eet.

Vandag deel Bloemnuus ’n resep vir iets waarop jy jouself en jou gesin die naweek kan trakteer: sjokolademousse vir vier mense.

Bestanddele

170 g melk- of donkersjokolade

¼ koppie dik room

4 groot eiers (net die eierwit)

3 lepels strooi- of witsuiker

1 lepel kakaopoeier

geklitste room of meringue

Maak nou só

* Breek die sjokolade in stukke in ’n mikrogolfbak en maak warm vir 20 sekondes op ’n slag. Roer dit elke keer deur totdat al die sjokolade gesmelt en glad is. Voeg die room by en roer goed deur totdat die mengsel dik en glad is. Dit is aanvanklik loperig, maar sal stadigaan dikker word.

* Plaas die eierwit in ’n groot bak en meng met ’n elektriese klitser teen medium-spoed totdat die eierwit punte vorm.

Voeg die strooisuiker by die eiermengsel en klits vir ongeveer 30 sekondes.

* Voeg nou die sjokolademengel lepel vir lepel by die eierwit terwyl die menger op lae spoed gestel is. As jy met die hand klop, voeg ’n lepel sjokolade by en klop eers styf voordat jy die volgende byvoeg, totdat al die sjokolade deel van die mengsel is.

* Voeg nou die kakaopoeier by en stel die menger op medium-spoed totdat die mengsel glad, lig en deurlug is.

* Verdeel die mengsel tussen vier klein glase of twee groter bakkies. Laat dit twee uur lank in die yskas afkoel. ) Voeg later die geklopte room of liggies verbruinde meringue en sjokoladeskaafsels by vir versiering.

Dit is die beste om die sjokolademousse dieselfde dag te eet.

You need to be Logged In to leave a comment.