Opknappings by die Mediclinic Bloemfontein is onlangs op ’n geselligheid bekend gestel met die opening van die Vivé Café Restaurant.
Die hospitaal se twee koffiewinkels het saamgesmelt in een gesellige restaurant wat die ruimte, toeganklikheid en sigbaarheid verbeter met die winkel en restaurant in twee aparte ruimtes.
Vivé Café Restaurant se toegang is van binne die hospitaal en sal uiteindelik 100 sitplekke vir gaste bied.
Die restaurant sal nie net aansit-etes bedien nie, maar pasiënte van Mediclinic sal ook van die spyskaart af kan bestel met aflewerings wat in sake-ure kan plaasvind.
Carl Bührman, hospitaalbestuurder, sê die opening van Vivé Café asook die opgeknapte badkamers op die grondverdieping, is net die begin van talle opknappings wat gaan volg.
Daar word ook nou reeds gewerk aan ’n toelating-sitkamer wat toelatings sal vergemaklik met ander verbeterings wat binnekort volg.