Dalk is dit anders as wat ons nog altyd gedink het dit is?
Die idee van die toekoms wat uitgestrek vóór ons lê.
Kom ons verbeel ons ons stap agteruit die toekoms in.
Die toekoms agter ons. Onsigbaar. Onbekend. Die verlede voor ons. Ons kan dit onthou, selfs sien.
Uit hierdie verlede kies ons die stories en herinneringe wat ons saam die toekoms in neem. Sommige is onsigbare bagasie wat deurglip wanneer ons die koffers van herinnering pak.
Dalk weens die bekruiping van ouderdom bevind ek my in ’n reünie-besaaide seisoen.
Dit begin met Frank Opperman se puik eenmanvertoning Reünie, op die Vryfees.
Reünies is interessant. ’n Truspieël vol stories wat herlaaide stukrag kry deur die deel van herinneringe.
Karakters wat uit mekaar se dampkringe verdwyn het, vind mekaar kortstondig in ’n ooreengekome tyd en ruimte. Paaie kruis. Herinneringe word afgestof, stories kry of verloor sterte.
Vir oomblikke word ’n mens weer wie jy toentertyd was, want op vele maniere beïnvloed wie ons eens was wie ons tans is. Destydse paaie gebaan deur die padpredikante van selfvertroue of knakke wat onderwyserwoorde en huislike omstandighede meegebring het, wat ál kleiner in die truspieël word.
Op elke reünie is daar diegene wat hul eie weë gebaan het, en dié wat die pad byster geraak het. Dié vir wie die dobbelsteentjies reg geval het, en hulle vir wie dit verkeerd geval het. Tussen koeitjies en kalfies soek ek na leidrade met die hoop op inspirasie en veerkragtigheid. Twee elemente wat ons broodnodig het.
Inspirasie kom dikwels uit die karakters wat hulle nie aan die dobbelstene of doodloopstrate gesteur het nie. Hulle wat opgesteier het wanneer hulle platgeslaan was, wat op hul tande gebyt en deurgedruk het toe die slagordes van die lewe teen hulle opgestel was, wat teen die prikkels geskop en getrou gebly het aan daardie sagte binnestem wat aanhou fluister het: “Hou aan.”
Dan, die ander. Weeklaers wat wroeg oor wat kon gewees het.
Hulle wat meen hulle het probeer, dat omstandighede en politieke klimaat hulle definieer. Hulle voel asof van alles ontneem en ontheem. Op hoogte van alles wat verkeerd is, gesels hulle oortuigend en ywerig oor hoe hul drome verydel is, ideale verdwyn het, en alle hoop verloor is. Hadida-klaagliedere.
Reünies het ’n onderliggende boodskap. Ons word ouer. In my reüniegroep is daar gryskoppe, kaalkoppe, gekleurde koppe, en geneties-gelukkige behaarde koppe. Die geslag voor ons het geglo dat die wysheid met die grysheid kom.
As ek enige wysheid na my reünie kan neem, is dit die eenvoudige besluit om die wroegende weeklaers te vermy, en prentjies vir die truspieël van my lewe te versamel by die karakters wat uit die staanspoor besluit het: Ons kan nie die buitewêreld beheer nie, maar ons binnewêreld kan help dat ons die toekoms met hoop en veerkragtigheid tegemoet gaan.
Selfs al loop ons dit agteruit tegemoet.