Deelnemers aan Mooihawe se Amazing Race op 9 September moes behoorlik kophou om ’n hele rits vrae te antwoord en foto’s te neem om mee te ding vir ’n eerste prys van ’n geslagte lam.
Die 15 spanne het die pretdag begin by die Leeuwberg-kaserne op die Onze Rust-landgoed waar Colin Steyn vir deelnemers meer vertel het oor interessanthede rondom die Tweede Wêreldoorlog. Spanlede het daar hul eerste uitdaging ontvang waarin hulle vrae rondom dié praatjie moes antwoord.
Daarna het elke span ’n kaartjie met aanwysings ontvang wat aan die navigator behoorlike uitdagings gestel het terwyl die bestuurder moes byhou met die roete wat links en regs deur en tussen plase gekronkel het.
Die res van die span moes uitkyk vir ’n rits leidrade soos grafte, bloukraanvoëls en die naam van ’n besproeiingspunt terwyl aktiwiteite op hulle gewag het soos om bale, beeste en skape te tel en foto’s van verskeie voorwerpe geneem moes word.
Op die eerste trajek deur die plaas Oliewenkoppies het sommige spanne die pad deur die veld effens byster geraak en hul motors het in die vleiland vasgeval, maar danksy gewillige hande is hulle uitgehelp.
Van hier moes spanne uitdagings op hul doenlyse voltooi soos om ’n spesifieke windpomp afneem en vyf soorte grasse op Bruidegomspruit te identifiseer. Vir die meeste stadsjapies was dié uitdaging so effe bo hul vuurmaakplek.
Die laaste trajek het deelnemers deur Tierpoort geneem met ’n laaste uitdaging by die blokhuis wat uit die Anglo-Boereoorlog dateer.
Hier het Marthinus Steyn, uitgevat in die uitrusting van ’n Boere-kommandolid, vir deelnemers meer vertel oor blokhuise waarna hulle hul laaste vraestel van die dag ingevul het.
Die laaste punt was ’n heerlike gourmet-hamburger wat Marie en Gerhard Lombard van De Oude Kraal aan gaste voorgesit het.
Uiteindelik was dit die A3-span van Alexis en Annalie Du Preez en hul seun Alexis Junior wat kon spog met die meeste punte vir die dag.
Bloemnuus, Radio Rosestad en Bloemskou het die dag ondersteun.

