Geharde atlete en fiksheidfanatici, asook beginners en gesinslede van jonk tot oud, kan op 12 November aan die tweede uitdaging in die Titans Chase-avontuurreeks by Oewerkuier, teen die Vaalrivier, in Christiana deelneem.
Boonop het ’n span, wat uit tot tien deelnemers kan bestaan, die geleentheid om kaartjies vir deelname aan hierdie hardloop-hindernisbaan-uitdaging te wen.
“Die wedstryd van die lewe is nie vir toeskouers nie, maar vir deelnemers. Elke dag is ’n geleentheid om beter te wees as die vorige. Of jy hardloop, loop of kruip… vordering is vordering,” sê Ricardo Gressel, Titans Chase-ambassadeur.
Hy sê ook die byeenkoms voeg waarde tot die gemeenskap by en bemark die gebied. Met die eerste aanbieding in die reeks het deelnemers die baan as veeleisend beskryf, met die delwershope wat hulle moes oor ’n hindernis op hul eie.
Die Smith-familie, met hul eenderse T-hemde met die woorde “Familie staan saam” daarop, het in September as ’n span deelgeneem en die organiseerders met hul spangees beïndruk.
Pieter, een van die Smiths, vertel dit was vir hulle ’n dag van spanwerk waarin hulle mekaar heeltyd ondersteun het.
Hy beskryf sy familielede, met ouderdomme wat wissel van 29 tot 57 jaar, as fiks en aktief. Volgens hom was die geleentheid goed georganiseer, wat alles makliker gemaak het.
- Deelnemers kan een van die volgende aandurf: die War Hammer Chaser, ’n 5 km-hindernisren vir individue;) die War Hammer, ’n 5 km-hindernisren vir spanne van twee tot tien deelnemers;) die Beast, ’n 10 km-hindernisren vir spanne van twee tot tien deelnemers; en) Tiny Titans, geskik vir kinders ses tot 15 jaar oud.
Vir inligting, besoek titanschase.co.za of die Facebook-blad Dare to be a Titan.
Skryf só in om te wen
Een groep deelnemers kan tien kaartjies vir die Clash of Tribes-groepsuitdaging wen. Deelnemers hieraan moet tien jaar of ouer wees.
Die groep kan uit familielede, kollegas of vriende bestaan.
Om deel te neem, stuur jou naam, van, e-pos-adres en telefoonnommer voor of op Maandag (07/11) om 10:00 na bloemnuus@media24.com.
Vertel ook in twee sinne waarom julle graag sal wil deelneem.