Rhapsody in Bloem-konsert word Sondag aangebied

Anders as gewoonlik gaan vandeesweek se Rhapsody in Bloem-konsert Sondag (12/03) in plaas van die gebruiklike Vrydag-konsert in die Naval Hill-planetarium aangebied word.


Anders as gewoonlik gaan vandeesweek se Rhapsody in Bloem-konsert Sondag (12/03) in plaas van die gebruiklike Vrydag-konsert in die Naval Hill-planetarium aangebied word.

Petro Engelbrecht, stigter en organiseerder van dié beursprojek, sê dit is om in te pas by die beurtkragskedule op Naval Hill.

Vandeesweek sal daar ook die strykers van die Rhapsody-orkes onder leiding van Heinrich Lategan die slotwerk lewer.

Lategan sal ook sy hobo-vaardigheid vertoon in die eerste beweging van Albinoni se Concerto vir hobo, op. 7 nr. 6.

By ’n vorige geleentheid het hy die werk op marimba uitgevoer, want benewens dirigent, is Lategan ’n perkussiespeler, ’n hobospeler en ook bekwaam wat Chinese instrumente betref, soos die tradisionele erhu, hul weergawe van ’n viool.

Paul Loeb van Zuilenburg, wat in twee werke trompet speel, is die pa van die eerste wenner van die Rhapsody-musiekbeurs in 2016. Paul Loeb van Zuilenburg IV is ’n violis en studeer tans in Lübbecke, Duitsland.

Die werk waarin Van Zuilenburg sr. optree, is “When the Saints” en “In the Mood” met Vuyani Gxavu (tromboon) en “Andante en Allegro” van Ropartz. Engelbrecht sal in albei werke voor die klavier wees.

Lesley Mathews speel duette saam met haar leerlinge Cherise­ Louw en Alexander Massyn, en sal ook haar seun Roelof Botha op klarinet bystaan, Lategan op hobo en Zoe Williams wat “Ballade” van K Dogg op altsaxofoon sal uitvoer.

Lize de Klerk, een van die Royal Schools of Music se toppresteerders verlede jaar, sal ’n soloklavierwerk uitvoer.

Die sopraan Alida van der Walt kan in Lieder gehoor word, naamlik “Von ewiger Liebe­” van Brahms, “Darf es Falken Schwinge” uit Dvorak se Sigeunermelodieë, op. 55, “Mondnacht” van Schumann en die immergewilde “Summer­time” van Gershwin.

Die toegangsgeld vir die kwartaallikse Rhapsody in Bloem-konserte word gebruik as ’n musiekbeurs vir die wenner van ’n kompetisie wat in die derde kwartaal plaasvind.

Die konsert begin om 18:00. Toegang kos R80 en besprekings kan by Engelbrecht by 082-824-5507 gedoen word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.