Riool wat al ’n week lank deur die erf van Families Suid-Afrika (Famsa) se kantoor in Strausstraat, Universitas, vloei, het dié welsynsorganisasie se werk die afgelope week byna onmoontlik gemaak.
Die meeste werksaamhede op die perseel moes gestaak word nadat riool Donderdag (16/02) deur die erf begin vloei het weens verstoppings by huise in Stegmanstraat. Dié rioolwater vloei dan deur Famsa se perseel tot in Strausstraat.
Nadine Müller, skakelbeampte by Famsa, sê die riool het Vrydag soos ’n rivier deur die perseel tot in die straat gevloei. “Die kinderterapie-sentrum is omring deur riool en selfs die speelterrein is onder stinkende water. Ons kan tog nie dat mense hier vergaderings hou nie,” het Nadine Woensdag gesê.
Sy sê hulle het die probleem Maandag (20/02) by die Mangaung-metro aangemeld en Tjaart van der Walt, DA-wykdsraadslid vir Universitas, het dit ook aangemeld.
Teen Donderdagmiddag laat het die Mangaung-metro se werkers na vele oproepe van Tjaart na die munisiplae bestuurder opgedaag om die rioolverstopping op te los.
“Ons moes kinderterapiesessies en ander byeenkomste kanselleer weens die vloeiende riool. Al die personeel het ook by die huis gaan werk. Dit is vir ons baie moeilik.”
Tjaart sê daar is ook probleme by Gunnstraat en John Knox-straat, maar munisipale werkers het wel intussen daarby uitgekom.
Ook Driena Taljaard van Watermeyerstraat in Hilton is moedeloos oor die riool wat al vyf maande lank in haar erf staan.
Pieter Lotriet, DA-wyksraadslid wyk 21 wat Hilton insluit, sê die rioolprobleme in dié wyk is baie erg.
“Daar is seker 10 of 12 plekke waar rioollekkasies in dié omgewing voorkom. Die groot probleem is dat die pompe in die hoofpyp in Longstraat blykbaar nie werk nie en riool slegs met gravitasie wegvloei na die rioolplaas. Die rioolpyp van klei van ongeveer 1 meter in deursnee, is baie oud en volgens ingenieurs is daar groot strukturele probleme.”
“Inwoners het self ook ’n aandeel in die verstopping. Ons het al gesien dat daar babadoeke, koerantpapier en selfs bakstene uit rioolpype kom. Mense moet niks anders as toiletpapier in toilette afgooi nie.”
Lotriet sê die ander probleem is mense wat oral erwe onderverdeel in hierdie ouer dele van die stad en ’n baie swaar las op die rioolstelsel laai.
“Die oproepsentrum vir die metro werk nie. Ek het in Desember e-posse na die metro gestuur en gesien hoe dit uitgevee word nog voor dit oopgemaak is.
“Die munisipaliteit sukkel erg met kapasiteit met slegs 40% van poste in die metro wat gevul is.”
Hy sê geld moet uit nasionale tesourie beskikbaar gestel word om die metro se infrastruktuur te herstel.
Ook in Langenhovenpark is daar sedert Oktober verlede jaar ’n erge probleem in Frans Venter-, WEG Louwstrate, Du Plessislaan en Sangirostraat.
DA-wykdsraadslede Dulandi Leach, David Mc Kay en Lotriet het Vrydag 10 Februarie ’n klag van oortreding van die Nasionale Waterwet teen die waarnemende munisipale stadsbestuurder, Teboho Motlashuping, by die Bainsvlei-polisiekantoor gelê. Leach sê hulle is ook in kontak met die Openbare Beskermer en die Groen Skerpioene.