Riool van elders pla

Inwoners van Heuwelsig en veral Reynekelaan langs Tempe word deur riool omring – ’n situasie wat deur verskeie omstandighede vererger word.


Inwoners van Heuwelsig en veral Reynekelaan langs Tempe word deur riool omring – ’n situasie wat deur verskeie omstandighede vererger word.

Een van die groot bydraende faktore is dat private kontrakteurs riool uitsuig, veral in hoewe­gebiede, en dit dan hier in die stelsel stort eerder as by die rioolplaas in Bloemspruit.

Werner Pretorius, DA-raadslid, sê hy het talle klagtes van inwoners gekry oor storting in die rioolgat in die pypleiding in Lucas Steynstraat.

“Ons het foto’s wat oor ’n tydperk geneem is van verskeie ondernemings wat riool hier stort. Die probleem is dat dit ernstige probleme verder in die pypleiding veroorsaak,” sê Pretorius.

Hy het Vrydag (29/04) navrae hieroor aan amptenare van die Mangaung-metro gerig.

Johnny Claassen, een van die kontrakteurs wat tot onlangs nog hier riool gestort het, sê die metro het hom gevra om te help riool oplaai omdat hulle nie die mannekrag het nie.

Hy het mondelings toestemming gekry om riool hier te stort by ’n werknemer wat nie meer by die metro werk nie. Nou sukkel hy om die nuwe amptenaar wat in die pos is in die hande te kry. Hy sê hy het wel ’n sertifikaat van die metro dat hy riool mag stort.

Claassen sê mense kla as hy in Lucas Steynstraat riool stort, maar ook as hy met die riooltenkwa deur die stad na Bloemspruit ry.

“Hulle sê ek ry die strate stukkend.”

Hy sê ná die baie klagtes in Heuwelsig stort hy nou riool uit die tenkwa agter die Towers-sentrum in Langenhovenpark.

“Ek wil net saam met die mense van die metro ’n oplossing vir almal kry. Die riool moet gesuig word en in die stelsel kom. Ek is nie moedswillig nie, al wat ek vra, is ’n goeie alternatief.”

’n Inwoner wat al maande lank die stank van riool moet verdra, is Elsabé van Jaarsveld van Canine Kanaän in Reynekelaan wat dagsorg vir honde bied.

“Die riool dam nou al van November af soos ’n vleiland hier voor my op,” sê sy.

Johan Pretorius van die DA het gereël dat werknemers van die metro aan die verstopte rioolpyp werk.

“Werkers van die metro met verskeie voertuie het lank hier gewerk, maar kon niks regkry nie. Daarna was hier ’n private kontrakteur wat die verstopping probeer verwyder het.”

Die Mangaung-metro het teen druktyd nog nie op Bloemnuus se navraag oor hoe die probleem met rioolstorting opgelos gaan word, geantwoord nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.