Rioollek ná stromende rioollek steek kop uit in Bfn

Inwoners van huise in Daniel van Niekerkstraat in Wilgehof word nou al langer as ’n week deur ’n sterk stroom rioolwater geteister.


Die huis by Daniel van Niekerkstraat 17 in Wilgehof waar riool nou al langers as ’n week uit ’n mangat stroom.Foto’s: Lientjie Mentz

Inwoners van huise in Daniel van Niekerkstraat in Wilgehof word nou al langer as ’n week deur ’n sterk stroom rioolwater geteister.

Shoeshoe Zulu, wat al sedert 1996 in ’n huis in Wilgehof bly en nog nooit so ’n probeem ondervind het nie, sê die water het Donderdag (27/10) by die mangat in die huis se oprit begin oorloop.

“Dit het net al hoe erger geword,” het sy gister aan Bloemnuus gesê.

“Die werkers van die Mangaung-metro was Saterdag hier met die stokke wat hulle insteek om die pyp skoon te maak, maar toe hulle weg is, het die water net al hoe sterker begin loop.”

Sy sê dit is veral erg vroegoggend en laatmiddag wanneer almal tuis is.

Zulu het selfs al Donderdag na die metro se afdeling gemoeid met vaste afval gegaan om daar hulp te soek, en werknemers het haar beloof dat hulle iemand sou stuur.

Dit het nie gister gebeur nie en vanoggend loop die rioolwater steeds in haar erf. Dit vloei ook in haar bure se erf en onder die muur deur na haar erf toe.

DA-wyksraadslid Hennie van Niekerk sê hy het ook al oproepe gemaak om die metro te versoek om aandag aan die situasie te skenk.

Wykraadslid Tjaart van der Walt by die erge rioollek in die hoofpypleiding parallel met Nelson Mandelarylaan, wat riool van Universitasrif na die rioolaanleg neem.

Tjaart van der Walt, DA-wyksraadslid vir onder meer Universitasrif, sê daar is ook erge rioolprobleme hier. Dit blyk een van die groot oorsake van hierdie en ander rioollekplekke is die afwesigheid van onderhoud aan die pype.

Hy het gister aan Bloemnuus ’n erge rioollek in die veld langs Nelson Mandelarylaan gaan wys. Die rioolwater stroom uit die hoofpypleiding wat rioolwater van dele soos Universitas na die rioolaanleg wegvoer.

By ’n huis by Stoffel van Wykstraat 5 het die riool ook oorgeloop en ’n dam agter in die erf begin vorm. Antoinette van Zyl sê die water dam al van Sondag af in haar erf op.

Munisipale werkers het gister gewag op die hidromasjien wat rioolpype kan skoon spoel. Daar was aanvanklik glo nie diesel vir die voertuig nie, maar hulle het gister gehoor dat die diesel gekom het.

Van der Walt sê die rioolpypleidings agter die huise in Jac van Rhynstraat en die een in Stoffel van Wykstraat, veroorsaak gereeld probleme.

Hy sê die toename in studentehuise en die aantal inwoners in dié huise, plaas verder druk op die stelsel.

“Nog ’n probleem is dat daar geen geld in die begroting is om rioolpypleidings wat verouderd is te vervang nie.”

Bloemnuus het navrae oor die beskikbaarheid van die hidroblaasvoertuig aan die kommunikasie-afdeling van die Mangaung-metro gestuur, maar nog geen antwoorde hieroor ontvang nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.