Rudi Maartens en Mariette Pittaway by die rioollek op die hoek van Carl van Pletzenlaan en Hooflaan wat Kabelweg word.Foto: Lientjie Mentz


’n Lekplek waar rioolwater sedert 2020 uitborrel en oor ’n wye deel van die hoewegebied in Estoire versprei, hou ’n groot gesondheidsrisiko vir inwoners en leerlinge in.

Mariette Pittaway, die DA se woordvoerder vir onderwys in die Vrystaat, en Rudi Maartens, die DA se kandidaat vir wyk 47, het gister ’n besoek aan die plek op die hoek van Carl van Pletzenlaan en Hooflaan gebring waar die riool uit ’n mangat uitstoot.

Ds. Robbie du Toit van die NG kerk Estoire sê die riool besmet die kerk se boorgate.

“Die water het al onder die pastorie opgestoot,” het hy gister gesê.

Pitteway is bekommerd oor die Laerskool Dr. C.F. Visser in Tibbie Visserstraat waarheen dié rioolwater vloei. “Die skolewet sê kinders het die reg op toegang tot skoon drinkwater en water vir persoonlike higiëne,” sê sy. “Leerlinge moet gereeld deur die rioolwater skool toe loop.

Ons moet nou daaraan aandag gee en nie wag tot mense begin siek word nie.

“Ons moet nou daaraan aandag gee en nie wag tot mense begin siek word nie.”

Die skool gebruik boorgatwater.

Maartens sê die probleem hier is al telkens by die Mangaung-metro aangemeld en ’n vorige burgemeester was ook al hier. Soms word daar aan die rioolverstopping gewerk, maar dit begin altyd weer.

Pittaway sê dit is veral sedert die departement van onderwys sy intrek geneem het in die N8 Gateway-kantoorpark in A.W Louwlaan wat die probleem vererger het.

“Die rioolnetwerk is nie ontwikkel vir soveel ondernemings en kantoorruimte nie,” sê Pittaway.

Een van die inwoners, Fanie van der Walt, sê die hoofwaterlyne tussen Maselspoort en die stad loop langs Tibbie Visserstraat. Daar is dus die gevaar dat die rioolwater in die drinkwater kan lek as ’n pyp sou breek.

Pittaway sê die DA gaan nou ’n klag hieroor by die Omgewingsbestuursinspekteurs (Groen Skerpioene) indien.

You need to be Logged In to leave a comment.