Christian Lombard en VF Plus-raadslid Valerie de Kock by die rioollek in Longstraat. Foto: Lientjie Mentz


Rioolwater wat al maande lank soos ’n rivier in Longstraat, Hilton, afstroom, het inwoners nou moedeloos.

“Vanoggend toe ek weer deur die riool moet ry en my kleinkind vra hoekom ruik dit so sleg, toe besluit ek genoeg is genoeg,” sê Caroline Visser, inwoner van Queen’s Square in Noordhoek. Die straat loop uit Longstraat.

“Die riool loop nou al maande lank in Longstraat en ek het dit al baie by die munisipaliteit aangemeld,” sê sy. Sy bly al 45 jaar in die huis en sê die rioolprobleme is nou erger as ooit.

Al is dié probleme reeds verskeie kere by die owerhede aangemeld, is geen oplossing in sig nie.

Valerie de Kock, VF Plus-raadslid sê Hilton is een van die Mangaung-metro se weeskinders.

“Dit lyk aaklig hier. Die riool loop in die strate af, die bosse groei hoog hier teen die straat en vullis lê die hele wêreld vol.”

Sy het Donderdag (07/07) gesê sy het reeds die boom wat in Longstraat omgeval het en oor die straat lê, by die afdeling vir parke aangemeld en ook die bome wat naby die kragdrade groei by Centlec aangemeld.

Die VF Plus het ook gevra dat die afdeling parke die strook veld al langs die draad met die treinspoor sny.

De Kock sê die riool stroom beslis uit ’n hooflyn waar pype bymekaarkom.

“Die onwettige ontwikkelings in dié omgewing plaas ook ’n baie groter las op die infrastruktuur as wat daar vir dié deel van die stad ontwikkel is. Dit is ’n baie ou deel van die stad en die rioolstelsel word ook nie behoorlik onderhou nie.”

Sy sê sy hanteer daagliks sowat agt navrae van inwoners oor riool oor die stad heen. “Ons stad verdrink in riool en waterlekke.”

Benewens die gemors en riool in Longstraat en ander dele van Hilton, is daar ook baie diep slaggate in dié straat waar inwoners stadig moet ry om nie hul voertuie te beskadig nie.

You need to be Logged In to leave a comment.