Rioolwater vloei nou al sedert Saterdag (11/03) deur die erf van Normarie en Jannie du Plessis in Amsterdamstraat, Noordhoek in Bloemfontein.
Jannie sê die rioolwater het die eerste keer sowat drie weke gelede uit die mangate in hul erf gevloei.
“Ons het toe ’n privaatkontrakteur gekry om daaraan te werk.”
Ná die erge reënbui Saterdag het al drie mangate op hul erf erg begin oorloop. Die kontrakteur het gesê hy kan niks doen nie omdat die probleem waarskynlik by die hooflyn op die hoek van Amsterdam- en Haarlemstraat lê.
Sedert die riool opgestoot het, het dit nou al deur die Du Plessis-gesin se hele tuin gevloei en dam dit agter die huis op. “Ons is bang dit begin by die huis inloop. Ons hond Lucky bly deur die rioolwater hardloop en ons het ’n vyfjarige dogtertjie wat nie kan verstaan hoekom sy nie buite kan speel nie,” sê Jannie.
Normarie sê die riool loop nou al in hul bure se swembad in.
Die egpaar het al menigmaal probeer om die munisipale aanmeldlyn te bel, maar tot Vrydag het niemand het nog daar ’n draai gemaak waarvan hulle weet nie.
Selmé Pretorius, DA-raadslid van die wyk waarin dié rioollekkasie val, sê die waarnemende stadsbestuurder en departementshoof reageer nie op haar versoeke om in te gryp nie.
Sy sê die hidroblaasmasjien waarvan die Mangaung-metro net een het, word nou herstel.
“Daar is ook die moontlikheid dat die hidroblaasmasjien nie hierdie probleem sal oplos nie, omdat daar probleme met die pyp self is.”
Volgens haar is daar nou al 20 huisgesinne in die omgewing van die rioollekkasie by die Du Plessis se huis wat deur die rioolwater geraak word.
Sy sê net in haar wyk is daar vier ander groot rioollekkasies waarvan een in ’n erf in Kenneth Kaundaweg is wat ook sedert Maandag onder rioolwater is.
“In Petrastraat in Hillside stroom rioolwater nou al lank.”
Sy sê sy het die Groen Skerpioene ook al gekontak wat druk op die metro plaas om hierdie onhoudbare rioollekkasies reg te maak.


