Van die vrywilligers wat die veld skoongemaak het, is van links Jan-Hendrik Cronje (DA), Eslo Coetzee, Annéli Machin, Arina Engelbrecht (almal van Cityrun) en Janine Bailing Kok (AfriForum).Foto: Lientjie Mentz


Die hewige reën op Saterdag 23 April het nie gekeer dat ’n groep vrywilligers ’n reuse-taak aanpak nie.

Die oop stuk veld in Reynekelaan langs Tempe se heining is skoongemaak.

Meer as 50 vrywilligers het deelgeneem aan die projek #givebackchallenge.

Eslo Coetzee van CityRun moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak.

“Ons maak die park van sowat 8 ha skoon in voorbereiding van die Cityrun Heuwelsig wat binnekort hier bekend gestel word.”

Cityrun is deur Leon Engelbrecht in Bloemfontein begin.

’n Weeklikse Cityrun word Saterdae op Naval Hill aangebied en die een in Heuwelsig sal ’n geleentheid bied vir mense in die noorde van die stad om hier te oefen.

Die Cityrun by Brandkop is genoop om te sluit.

Coetzee sê dit was lekker om te sien hoe mense van oral oor hand bysit om die bosse weg te kap en die park skoon te maak.

Die groep – onder andere Cityrun-vrywilligers, inwoners uit die omgewing, AfriForum, DA-raadslede en wykslede – het van 07:00 tot 14:30 gewerk.

Coetzee sê hulle het met die Mangaung-metro onderhandel om as deel van die metro se Adopt-a-Park-projek die park vir drie jaar aan te neem.

“Dit is nie net ’n Cityrun-projek om die park skoon en netjies te maak en so te hou nie – dit is ter wille van die omgewing se mense wat hier wil stap of draf. Dit moet veilig wees sodat ma’s met stootwaentjies hier kan stap.”

Hy sê Cityrun se doel is om mense fisiek en geestelik gesond te kry en te hou.

Die nuutste Cityrun sal op Saterdag 4 Junie tussen 07:00 en 09:00 begin, waarna dit elke Saterdag aangebied word.

Dit bestaan uit ’n 2,5 km-roete wat twee maal voltooi word. Diegene wat egter nie vir die volledige 5 km kans sien nie, kan net die 2,5 km aflê.

You need to be Logged In to leave a comment.