’n Gr. 6-leerling aan Grey-kollege (primêr) het met die hulp van ’n sakeman 15 rolstoele aan Engo geskenk.
Dit is gedoen as deel van dié skool se projekte om leerlinge by liefdadigheid te betrek. Aan die einde van die eerste semester het die skool byvoorbeeld ook 135 stelle nagklere aan kinders van tien huise van die Ons Kinder-en-jeugsorgsentrum oorhandig.
Engo Vrystaat het ’n passie daarvoor om behoeftiges te help. Een van sy projekte in 2023 in samewerking met Grey-kollege is ’n rolstoelprojek, waardeur ’n skenking aan Engo dit moontlik maak om ’n positiewe verskil in ander se lewe te maak.
Die gr. 6-leerling Johandré Smal het besluit om sy deel met die hulp van sakeman Werner Dreyer by te dra. Dreyer, van One More Fitness Systems, het Johandré gehelp om 15 rolstoele bymekaar te maak.
Dit is op 26 Julie aan De Wet Claassens, uitvoerende hoofdirekteur van Engo, en Engo-personeel oorhandig.
“Dit is ’n groot skenking. Werner en Johandré, jul ongelooflike bydrae van 15 rolstoele het ’n reuse-bydrae tot die projek gelewer,” was Claassens se woorde.
Personeel van Engo het die leerlinge en ouers van Grey vir hul bydraes, ondersteuning en omgee bedank.
“Grey maak só ’n ware verskil in die gemeenskap.”