Rommelhoop daagliks ál groter gemaak

’n Inwoner van Brandwag het onlangs weer gesien hoe meer as 20 rotte in die hoop vullis by die behuisingsprojek in dié woonbuurt rondskarrel.


’n Inwoner van Brandwag het onlangs weer gesien hoe meer as 20 rotte in die hoop vullis by die behuisingsprojek in dié woonbuurt rondskarrel.

Tog kom hy gedurig voor dooiemansdeur te staan wanneer hy die kwessie aanmeld.

Sedert 2019 het Michael Hopkins talle oproepe gemaak en e-posse na amptenare van die Mangaung-metro gestuur, maar geen terugvoering is ontvang nie.

Hy het hom selfs tot die Menseregtekommissie (MRK) gewend en oor drie jaar meer as 30 foto’s gestuur om die probleme daar te belig.

Die MRK het hom geantwoord dat die saak na die Mangaung-metro terugverwys word.

“Ek weet die kompleks is onder administrasie, en talle van die inwoners betaal reeds twee jaar lank nie huurgeld nie.”

Hopkins sê dit lei tot talle wetlike geskille, en veroorsaak dat die Mangaung-metro nie vullis verwyder, rioolprobleme oplos, gras sny en veiligheidsdienste verskaf nie.

“Ek verstaan dit, maar waarom word daar nie ’n vergadering met inwoners gehou om die kwessies te bespreek nie?”

Hy sê hy en talle ander inwoners van die omgewing het al gesien hoe inwoners van die kompleks daagliks vullis op die hoop gooi.

“Ek verstaan nie hoe mense kan voortgaan om die probleem te vererger en hul kinders aan gesondheidsgevare bloot te stel nie.”

Al waarvoor hy vra, is dat ’n gesondheidsinspekteur die hope vullis kom ondersoek.

“Ek sien hoe inwoners net aanhou om vullis op die hoop te gooi,” sê Hopkins.

“Rotte, vlieë en kakkerlakke broei daar uit.”

  • Volgens Hopkins is die kwessie verder vererger toe iemand ’n tydelike woonplek op die punt van Fergusonstraat oprig en begin om groot hoeveel­hede plastiekbottels bymekaar te maak. Hy reken dit dra tot die agteruitgang van die kompleks by. Navrae is aan die kommunikasie-afdeling van die Mangaung-metro gerig oor hoe die kwessie opgelos gaan word. Teen druktyd is geen terugvoering ontvang nie.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.