’n Nuwe baken van hoop is in Bloemfontein gevestig met die opening van die tweede Ons Winkel in die stad.
So het Marné du Plessis, nasionale bemarkingshoof van Ons Winkel, Vrydag (01/04) by die Bloemgate-sentrum gesê met die opening van die winkel daar. Dié winkel is een van 118 oor die land heen en is deel van Solidariteit Helpende Hand se gemeenskapsgebaseerde maatskaplike ontwikkelingsplan.
“Met die tweedehandse klere wat verkoop word, word ’n groot bydrae gemaak om armoede in Afrikaanssprekende gemeenskappe te verlig, verbreek en voorkom,” sê Kobus Venter, streeksorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand.
“In die Vrystaat spesifiek word geld uit die verkoop van voorraad aangewend om enkele kinders se koshuisgeld en busvervoer te betaal en ook om ’n bydrae tot die studiebeurs te maak.”
Die ander winkel in die stad is in Raymond Mhlabastraat. By die winkels kan enigeen gebruikte, bekostigbare klere vir mans, vroue en kinders koop.
Die nuwe winkel by Bloemgate spog met ’n netjiese uitleg waar klante gerieflik aankope kan doen.
“Mense kan enigiets by Ons Winkel afgee – van meubels en oudhede, tot kombuisware, beddegoed, gordyne, speelgoed, klere, skoene en sporttoerusting. Enigiets wat by die huis in die pad is en jy graag vir ’n goeie doel wil skenk.
“Ons Winkel omskep die skenkings in geld wat onder meer vir Helpende Hand se Studiefonds aangewend word.
“Dié fonds bied rentevrye studielenings aan studente wat kwalifiseer om verder te studeer, maar nie geld het om dit te doen nie,” sê Venter.
Ons Winkel dien ook as werkskeppingsprojek met twee personeellede wat by die nuwe winkel werk.
- Besoek die Facebook-blad Ons Winkel Bloemgate – Bloemfontein vir meer inligting.