Rooibos gevier

’n Rooibos-karnaval word Saterdag van 08:30 tot 13:00 by Toscana Estate net buite Langenhovenpark aangebied.


’n Rooibos-karnaval word Saterdag van 08:30 tot 13:00 by Toscana Estate net buite Langenhovenpark aangebied.

Annemarie Cronje van Rooibos on the go sê dit is lekker om ’n eg Suid-Afrikaanse produk soos rooibos te vier.

“Dit is die eerste fees van sy soort in Suid-Afrika waarvan ek weet wat op rooibos as produk fokus,” sê sy.

Die Europese Unie (EU) het in 2021 verklaar dat rooibos die status van beskermde naam-van-oorsprong ontvang. Dit beteken ’n produk mag slegs dié naam dra mits dit gemaak word met die kruie wat in die Sederberg-streek van Suid-Afrika groei. Rooibos is die eerste Afrika-kossoort wat dié status ontvang het en sluit hom aan by champagne van Frankryk en port van Portugal.

Op Saterdag se karnaval sal ’n spesiale fokus op rooibos geplaas word.

Cronje sê daar sal ook ’n verskeidenheid kosstalletjies wees, asook regte karnaval-speletjies waarmee pryse gewen kan word.

Gaste wat die karnaval besoek, betaal R60 vir toegang en ’n peuselhappie. Deelname aan die speletjies is gratis.

Toscana Estate is by Outeniqualaan 86, Spitskop. Rig navrae by rooibosonthego.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.