Sportsterre in drie verskillende afdelings asook ’n spesiale afdeling is Dinsdag (31/05) tydens ’n ontbytgeselligheid vereer.
Radio Rosestad het op dié geselligheid hulde gebring aan sportlui wat die afgelope jaar hoë hoogtes bereik het.
Die eerste afdeling was vir sportlui wat aan sport vir gestremdes deelneem.
Louzanne Coetzee, wat op die 2021 Paralimpiese Spele ’n silwermedalje in die 1 500 m (T11) en brons in die marathon behaal het en boonop ’n wêreldrekord in die T11-kategorie opgestel het, is as Radio Rosestad se wenner in dié afdeling aangewys.
Die wenner in die senior afdeling was die atleet Yolandi Stander.
Sy is in die Suid-Afrikaanse atletiekspan ingesluit wat van 8 tot 12 Junie gaan deelneem aan die Konfederasie van Afrika-atlete (CAA) se Afrika-kampioenskapsbyeenkoms wat in Mauritius aangebied word.
Sy het die nasionale vroue-titel in diskusgooi verower op Altetiek Suid-Afrika se nasionale baan- en veldkampioenskap wat in April om Kaapstad aangebied is.
Sy het ook op drie ander byeenkomste goud verower.
Philip le Roux (Laerskool Willem Postma) is vir sy goeie prestasies in swem vereer. Hy was die junior victor ludorum met een goue medalje, twee silwermedaljes en ’n bronsmedalje op die Suid-Afrikaanse Skoleswemgala.
Kovsies se netbalspan wat in 2021 die vierde keer die Varsitybeker gewen het, is ook vereer. Burta de Kock (afrigter), Karin Venter (hulpafrigter), Janine de Kock (Kovsiesport) en verlede jaar se kaptein, Sne Mdletshe, het die trofee namens die span ontvang.