Rosie se herlewing laat hoop weer blom

Ek is die peetma van ’n roosplantjie. ’n Binnenshuise bossie in ’n pot hier in die subkantoor. Ook die versorger van my bossie met pienk rose, net só op kantoor, en die onwaarskynlike ma van ’n “rescue”, soos daar na troeteldiere verwys word wat kort


Ek is die peetma van ’n roosplantjie. ’n Binnenshuise bossie in ’n pot hier in die subkantoor. Ook die versorger van my bossie met pienk rose, net só op kantoor, en die onwaarskynlike ma van ’n “rescue”, soos daar na troeteldiere verwys word wat kort by die dood om- draai en deur suiwer vertroeteling en liefde hul kragte herwin.

Verlede jaar kry ek ’n potplant geskenk ná ’n praatjie by ’n lees- kring. Die rose, in die diepste ska- kering van pienk denkbaar, is ’n liewe, opbeurende blyk van waar- dering. Tog is ek dadelik bekommerd. Ek het nog nie juis naam ge- maak as iemand wat plante laat gedy nie. Inteendeel – verskeie erg gewaardeerde geskenkplantjies het al onder my sorg tot in die wortel gevrek.

Dalk is dit dié keer anders, dink ek wanneer ek elke nou en dan op pad huis toe na Rosie op die motorsitplek langs my loer asof ons ou vriendinne is. Só bring ek toe ’n roos uit Bethlehem en gee dit water in Bloemfontein. Totdat ons weens ’n nuwe vlaag van die Covid-19-pandemie die kantoor ’n hoeveelste keer inderhaas moet ontruim ter wille van inperking.

Dit was, om absoluut eerlik te wees, twee weke voordat ek onthou het dat Rosie nog net daar staan waar ek haar vergeet het. Eensaam in ’n verlate kantoor, teen daardie tyd al só verdroog dat geen sorg of vloed van trane haar sou kon red nie.

Gelukkig is daar ’n kinkel in hierdie verhaal. Toe Rosie met haar aankoms op kantoor nog fluks geblom het, het ek eendag so ’n uitgeblomde rosie afgeknip en sonder seremonie in die vullisdrom van die kantoorkombuis gegooi. Die volgende dag het ek met verbasing gesien dat iemand daardie einste afgeknipte rosie in een van die groot plantpotte, net buite die kombuis, se grond gedruk het. Ai, siestog, het ek gedink, dis nou dierbaar, maar my oë gerol oor dié daad van optimisme.

Nouja. Kom ek sê maar net dat ek daardie einste afgeknipte takkie, wat wraggies wortel geskiet het, met die grootste bewondering en waardering uit daardie pot gaan haal het toe die stof weer ná inperking gaan lê.

Dankie, Samaritaan, dat jy so onwetend my Rosie vir my bewaar en van uitsterwing gered het. Daarmee saam bly my herinnering aan die praatjie en die gawe vroue van die leeskring in Bethlehem behoue.

As dit nou die plek en tyd was vir ’n preek, het ek iets kwytgeraak oor kleingelowigheid en optimisme in ’n wêreld waarin hoop by die dag al hoe meer kosbaar raak. Nou sal ek maar liewer net volstaan by: Word sterk, my liefste Rosie die Tweede, en blom tog asseblief eendag weer – Mammie sal ook haar bes doen.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.